Aanlyn-dorpie laat kenners kopkrap
2009-11-01 09:20
Internetkenners krap behoorlik kop oor Argleton, ‘n “spookdorpie” in Lancashire, Engeland, wat klaarblik net op Google se Maps-webruimte bestaan.
Dié geheimsinnige dorpie verskyn op Google Maps in die middel van velde langs die M58-hoofweg, suid van Omskirk in Lancashire, berig die Daily Telegraph.
Die feit dat dié dorpie op die Maps-webruimte verskyn beteken aanlyn-ondernemings se outomatiese sagteware “sien” nou ook die dorpie, en bied daarvoor dienste aan.
‘n Internetsoektog vir die dorpie sal jou nou op die spoor bring van enigiets van huise en werke tot moontlike sielsgenote – selfs aanlyn-afspraakdienste lys nou moontlike kandidate in Argleton. Jy kan selfs draf- en staproetes deur die “dorp” aanlyn beplan.
Die ondernemings, mense en dienste wat vir Arlington gelys is, is eg, maar is bloot geleë in ‘n area met dieselfde poskode.
Google en die maatskappy wat die kaartdata verskaf kan nie die verskynsel verklaar nie, en het nou ‘n ondersoek van stapel gestuur.
Volgens een teorie is Argleton moontlik opsetlik bygevoeg, as ‘n strik vir maatskappye wat die kaart se kopiereg ignoreer.
"Dis dalk ‘n doelbewuste fout sodat mense nie die kaart net so kan kopieër nie,” sê Joe Moran, ‘n akademikus en kaartkenner by Liverpool John Moores Universiteit.
“Soms voeg hulle fiktiewe strate by, want dié foute kan bewys dat ‘n spesifieke kaart net so gekopieër is. Ek het egter nog nooit daarvan gehoor op Google Maps nie."
‘n Woordvoerder vir Google het erken dat foute soms insluip.
"Hoewel die meerderheid van inligting korrek is, sluip daar van tyd tot tyd foute in. Ons werk gedurigdeur daaraan om die gehalte en akkuraatheid van die inligting op Google Maps te verbeter, en waardeer gebruikers se terugvoer."
– Daily Telegraph