25% van Duitsland sê ja vir mikroskyfies in lyf
2010-03-03 14:11
Hanover – Dit klink dalk soos iets uit ‘n wetenskapsfiksie-rolprent, maar een uit elke vier Duitsers sal glo gelukkig daarmee wees om ‘n mikroskyfie in hul liggame te laat inplant, mits daar voordele daaraan gekoppel is.
‘n Peiling wat deur die Duitse IT-maatskappy BITKOM gedoen is, het Maandag getoon dat 23% uit die 1 000 mense in die peiling bereid sal wees om so ‘n mikroskyfie te laat inplant as daar “sekere voordele” daaraan verbonde is.
Sowat een uit elke ses mense sê hulle sal dit laat doen om nooddienste toe te laat om hulle vinniger uit situasies soos brande of ongelukke te red, terwyl 5% sê hulle sal dit doen sodat hul inkopies makliker verloop.
Sowat 72% van mense het gesê hulle sal onder geen omstandighede enige elektroniese mikroskyfies in hul liggame toelaat nie.
- AFP