2010 dalk warmste jaar in geskiedenis
2010-08-08 11:00
Rapport
Johannesburg - Moenie dat die onlangse winterkoue jou flous nie – 2010 kan wêreldwyd nog een van die warmste jare in menseheugenis word.
Dís die bevinding in ’n verslag wat die afgelope week bekend gemaak is deur die Amerikaanse administrasie vir oseane en die atmosfeer (NOAA). Sowat 300 wetenskaplikes van 160 navorsingsgroepe in 48 lande het tot die verslag bygedra.
Die verslag bevestig ook dat die afgelope dekade die warmste is wat tot nog toe aangeteken is. Die aarde word die afgelope halfeeu al hoe warmer.
“Dit is nog te vroeg om te sê vanjaar gaan die warmste in die geskiedenis wees, maar tot dusver is 2010 minstens die derde of vierde warmste jaar,” het Derek Arndt van die NOAA gesê. Die warmste aangetekende jaar tot nog toe was 2005.
“Die styging in temperatuur van 1 graad Fahrenheit oor die laaste 50 jaar lyk dalk klein, maar dit het ons planeet reeds gewysig,” sê Arndt.
Volgens die NOAA is daar tien faktore wat daarop dui dat aardverwarming plaasvind. Sewe van dié aanwysers is wêreldwyd aan die styg of toeneem. Hulle is:
- lugtemperatuur oor die land;
- lugtemperatuur oor oseane;
- die see-oppervlak se temperatuur;
- die hoogte van die seevlak;
- die temperatuur van oseane;
- humiditeit; en
- troposferiese temperatuur.
Die ander drie aanduiders “daal” of neem af, wat eweneens op aardverwarming dui. Hulle is:
- arktiese see-ys;
- gletsers; en
- die lentesneeu-bedekking in die Noordelike Halfrond.
Die VSA se nasionale ruimtevaart-en-ruimteadministrasie (Nasa) het die aardoppervlak se temperatuur in die eerste helfte van 2010 gemeet as die warmste in 131 jaar.
Volgens die NOAA-datasentrum het agt lande in Asië, Afrika en die Asiatiese deel van Rusland die afgelope twee maande hul warmste aangetekende temperature beleef.
Die NOAA waarsku egter dat indien nat La Niña-weerstoestande (die teenoorgestelde van ’n droë El Niño-toestand) tussen Julie en Augustus vanjaar vinnig en “diep” ontwikkel, kan dit ’n beduidende impak op die verslag se bevindings hê.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) is versigtig met ’n voorspelling, al toon sy temperatuur-inligting ’n algemene verwarming in Suid-Afrika. “Suid-Afrika ervaar ook aardverwarming soos die meeste streke wêreldwyd, maar dit beteken nie dat vanjaar warmer as verlede jaar sal wees nie,” het Elsa de Jager, SAWD-klimatoloog, gesê.