Wall Street Journal kap SA ekonomie
2012-10-17 08:43
Aanwysers
| Rand/$ |
 | 9.40 | -0.96% | Goudmynesektor |
| Rand/£ |
 | 14.27 | -0.3% | 1365.50 | 0% |
| Rand/€ |
 | 12.07 | -0.61% | Alle aandeleindeks |
| Goud/oz |  | 1360.10 | -0.42% | 41413.44 | 0% |
Johannesburg – Die Wall Street Journal skets in sy jongste uitgawe nóg 'n donker prentjie van Suid-Afrika se ekonomie.
RSG berig die ekonomiese dagblad sê arbeidsonrus het daartoe gelei dat die land se ekonomiese groei agter geraak het teen ander Afrikalande. Die artikel sê die onrus onthul 'n koue werklikheid oor Suid-Afrika.
Luidens die artikel het Rwanda – waar 800 000 mense dood is in dieselfde jaar as wat die ANC die bewind oorgeneem het – daarin geslaag om 'n jaarlikse ekonomiese groei van 8% sedert 2004 te handhaaf.
Dié syfer is meer as dubbel dié van Suid-Afrika se 3,7% gedurende dieselfde tyd.
Volgens die radiostasie maak die artikel ook melding dat Zambië ná sy demokratiese verkiesing in 1991 nasionalisering geskrap het, maar dat Suid-Afrika dit steeds bespreek en ander maniere soek om by die mynbedryf in te meng.
Luidens die artikel skep die landwye stakings, gekoppel aan werkloosheid en ongelykheid van inkomste, 'n groot uitdaging vir die regerende party.
Intussen het Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne, ‘n beroep op die ANC gedoen om besprekings oor die nasionalisering van myne te laat vaar.
Shabangu het onlangs gesê die regerende party moet op sy Manguang-konferensie in Desember nasionalisering laat vaar om die ekonomie te red.
Eyewitness News het vroeër berig Helen Zille – wat bekommerd is oor die voortslepende stakings, werkloosheidsyfers en die land se kredietgradering – het pres. Jacob Zuma vroeër die week vir 'n openbare debat oor die stand van die ekonomie gevra.
Die president het egter dié versoek van die hand gewys.
Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, sê Zuma is besig om in samewerking met belangrike rolspelers aandag te skenk aan die stand van die ekonomie.
Volg Nuus24 op Twitter