Belastingstelsel kan verander
2013-02-15 08:28
Aanwysers
| Rand/$ |
 | 9.57 | -1.45% | Goudmynesektor |
| Rand/£ |
 | 14.40 | -0.02% | 1348.56 | 0.62% |
| Rand/€ |
 | 12.31 | -1.19% | Alle aandeleindeks |
| Goud/oz |  | 1369.58 | -0.6% | 41836.02 | 0.05% |
Johannesburg – Suid-Afrika se belastingstelsel gaan vanjaar nog hersien word om te verseker dat die regering genoeg geld het vir staatsbesteding, het pres. Jacob Zuma Donderdagaand in sy staatsrede in Kaapstad gesê.
"Die ministerie van finansies gaan later vanjaar 'n ondersoek van stapel stuur om te verseker dat ons die regte inkomstebasis het om staatsbesteding te ondersteun," het hy volgens Sake24 gesê.
Zuma het gesê veral mynheffings sal weer onder die vergrootglas kom sodat dié inkomste "ons mense beter kan dien".
Die moontlikheid van 'n nuwe mynbelasting is veral die laaste paar maande in die kollig.
Zuma het ook gewaarsku dat die ekonomie se groeikoers sal moet verdriedubbel om die mikpunt van 11 miljoen nuwe werksgeleenthede teen 2030 te haal.
"In my jongste ontmoeting met die sakegemeenskap het die sektor aangedui dat struikelblokke uit die weg geruim moet word om ekonomiese groei te kan verdriedubbel," het hy gesê.
Zuma het hom ook uitgespreek oor grondhervorming.
"Ons moet die tyd wat dit neem om 'n eis te finaliseer, verkort."
Hy het gesê vergunnings sal gemaak word indien mense wat grondeise wou instel, afsnydatums misgeloop het. Dus sal daar ook uitsonderings gemaak word vir die aanvanklike afsnypunt van Junie 1913.
Dié aankondiging het egter kritiek ontlok. Dr Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus het in 'n verklaring gesê dit lei tot onsekerheid.
"Vir 19 jaar is daar reeds onsekerheid in die landbou vanweë die uitgerekte proses van grondhervorming. Deur sekere aankondigings rondom die heropen van die 1913-afsnypunt te maak sonder om die detail daarvan uit te spel, veroorsaak weer van vooraf onsekerheid," het Mulder gesê.
– Lees hier meer.