Wallabies knyp oor seer Beale
2011-10-12 08:05
In-diepte Verslae
Die Internasionale rugbyraad het onthul dat slegs een speler positief getoets het vir 'n verbode middel tydens die Wêreldbeker in Nieu-Seeland.
Die Springbokke se les uit hul sukkelsege oor Wallis is om nie eens ’n sege oor Namibië as vanselfsprekend te aanvaar in die Wêreldbeker-toernooi nie.
Auckland – Die Wallaby-heelagter Kurtley Beale staan die gevaar om sy span se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland Sondag mis te loop nadat hy gister met ’n dyspierbesering gediagnoseer is.
Skanderings het gewys dié briljante aanvallende speler, wat die veld vyf minute voor die einde van die Aussies se kwarteindstryd-sege oor Suid-Afrika verlaat het, het ’n “ligte dyspierbesering”. Geen besluit is nog geneem oor sy betrokkenheid by Sondag se stryd op Eden Park nie.
“In dié stadium is daar nog onsekerheid oor die erns van die besering. Ons kan nog nie sê of hy in of uit is nie, en die span se mediese personeel doen alles moontlik om hom gereed te kry om die wedstryd te begin,” het ’n woordvoerder van die Wallabies gesê.
Beale se afwesigheid sal ’n gevoelige knou vir die Australiërs wees, aangesien hy deurdringingsvermoë met sy lopies van agter verskaf en betroubaar onder die hoë bal is.
Sy spanmaat Adam Ashley-Cooper het gesê dit sal ’n “massiewe verlies” wees as Beale nie kan speel nie, maar bygevoeg dat die span heelwat keuses as plaasvervanger vir hom het.
“Dyspiere is vreemde goed. Dit kan jou tien weke van die veld hou, of tien dae – jy weet net nooit. Alles hang af van hoe die herstelproses verloop,” het Ashley-Cooper gesê.
“Hy sal ’n massiewe verlies vir ons wees, want Kurtley verskaf soveel vir die span – nie net op die aanval nie, maar ook vir die gemoedstoestand en atmosfeer in die groep.”
Ashley-Cooper, ’n veelsydige agterspeler wat al heelagter, senter en vleuel vir Australië gespeel het, het gesê hy sal in enige posisie speel as Beale nie gereed vir die wedstryd is nie.
“Ek het al van my beste rugby gespeel in ’n week waarin ek van posisie moes verander, so ek sal die uitdaging verwelkom.”
Die Australiese skrumskakel, Will Genia, het gesê die span kan regkom sonder Beale.
“Dit sal ’n groot nekslag wees, maar ons sal dit maar net moet hanteer. Dis nie ’n ding waaroor ons nou kan tob nie. Hy is ’n speler van wêreldgehalte, maar ons het diepte in ons agterlyn, en sal sonder hom oor die weg kom,” het Genia gesê.
Wat ook al gebeur, Ashley-Cooper hoop om Sondag meer van die bal te sien as in sy span se naelskraapse sege oor die Springbokke.
“Ek dink ek het net een keer met die bal gehardloop (in die 80 minute teen Suid-Afrika). Ek kon dalk op die verdediging aan die bal geraak het, maar ek is nie seker dat ek dit te veel gedra het nie,” het hy gesê.
“My statistiek lyk waarskynlik nie te goed nie.”
Die Wallabies moes 147 duikslae uitvoer teenoor Suid-Afria se 53 en het gewen ondanks die feit dat hulle net 44% van die besit en 24% van die gebiedsvoordeel gehad het.
Volgens Ashley-Cooper gee só ’n sege die Aussies baie selfvertroue. “Jy kan baie daaruit neem. Ons kan baie vertroue daaruit put.”
– Sapa-AFP
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Die Burger