Pocock kry Bok-pluimpie
2011-10-04 10:02
In-diepte Verslae
Die Internasionale rugbyraad het onthul dat slegs een speler positief getoets het vir 'n verbode middel tydens die Wêreldbeker in Nieu-Seeland.
Die Springbokke se les uit hul sukkelsege oor Wallis is om nie eens ’n sege oor Namibië as vanselfsprekend te aanvaar in die Wêreldbeker-toernooi nie.
Wellington – As Heinrich Brüssow Maandag keelvol was oor al die vrae oor David Pocock se verwagte terugkeer na die Wallaby-rugbyspan, het dié beleefde Springbok-flank dit besonder goed weggesteek.
Die stryd by die afbreekpunte tussen dié twee is ’n baie toepaslike gesprekspunt voor Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd hier tussen Suid-Afrika en Australië.
Die Wallabies het Pocock nie beskikbaar gehad toe hulle onverwags in ’n Groep C-stryd teen Ierland vasgeval het nie, en Brüssow vermoed dié nederlaag het baie met hul oopkantflank se afwesigheid te doen gehad.
“Pocock is ’n sleutelspeler vir die Wallabies. Daar was nie ’n adjudant in die groep vir hom nie en daar is moeilikheid as hulle vir Pocock verloor,” het Brüssow gesê.
“Hy is een van die beste oopkantflanke ter wêreld. Ek skryf Wallis se Sam Warburton ook hoog aan, maar dis makliker om vroeg in jou toetsloopbaan balle te steel.
“Pocock het baie ervaring en is na my mening nommer een. Hy handhaaf sy standaard al ’n paar jaar en het al in 35 toetse gespeel.”
Brüssow se standaarde het ook nog nie verlaag sedert hy sy toetsbuiging in 2009 gemaak het nie. Hy is op sy beurt ’n groot bedreiging vir die Aussies met sy vermoë om besit by die afbreekpunte om te keer of te vertraag.
Ofskoon Brüssow en Pocock teen mekaar gemeet sal word, lê die verantwoordelikheid om hulle te keer elders.
“Jy kan nie van een ou verwag om ’n fetcher dop te hou nie. Die hele span moet van dié bedreiging bewus wees. Ons moet net skerp wees – miskien langer op jou voete bly en die ouens wat skoonmaak, moet vinnig by die baldraer kom,” het Brüssow gesê.
Dié 25-jarige Springbok-ster glo “klein foutjies” sal Sondag die verskil tussen wen en verloor wees.
Suid-Afrika se skrumwerk, stelskopwerk en verdediging is tot dusver goed. Die Aussies het spelbrekers soos Quade Cooper, James O’Connor, Kurtley Beale en Digby Ioane.
Die Bokke se benadering is minder subtiel as die Aussies s’n, maar daarop gemik om in uitkloprugby doeltreffend te wees.
Brüssow is ook tevrede met hom, Schalk Burger en Pierre Spies as losvoorspeler-kombinasie. “Schalk is wêreldklas en kan in enige van die drie posisies speel. Hy is vaardig, taai, kan in die lynstane aangewend word en kan balle steel. Schalk het Juan (Smith) se rol oorgeneem om vir ons die bal meer te dra en te versprei.
“Pierre doen ook sý werk en dit laat my toe om myne te doen. Ons gaan veral dié naweek ’n ou soos Schalk nodig hê, want in ’n taai wedstryd speel jy meer na die bal toe.”
Die Bokke kon kwalik vir ’n taaier kwarteindstryd gevra het, maar Brüssow verkies dit so.
“Ons speel drie keer ’n jaar teen die Wallabies en verkies hulle bo ’n span teen wie ons net een keer elke paar seisoene speel.”
Die moontlikheid dat hul veldtog in die kwarteindronde kan eindig, is byna ondenkbaar vir dié trotse groep Bokke.
“Ons konsentreer op die positiewe dinge, maar dis in almal se agterkoppe dat dit nou reg of weg is. As ons nou foute begaan, is alles waarvoor ons vier jaar lank voorberei het en almal se drome tot niet. Die ouens hier is egter baie ervare en weet hoe om dit te hanteer,” het Brüssow gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24