Pienaar hartseer oor Lomu se siekte
2011-10-08 10:14
In-diepte Verslae
Die Internasionale rugbyraad het onthul dat slegs een speler positief getoets het vir 'n verbode middel tydens die Wêreldbeker in Nieu-Seeland.
Die Springbokke se les uit hul sukkelsege oor Wallis is om nie eens ’n sege oor Namibië as vanselfsprekend te aanvaar in die Wêreldbeker-toernooi nie.
Wellington - Francois Pienaar is opgewonde omdat die Springbokke ’n realistiese kans het om Australië môre te klop, maar is terselfdertyd hartseer oor die welstand van een van sy groot teenstanders, Jonah Lomu.
Pienaar, die eerste Springbok-kaptein wat die Webb Ellis-beker omhoog gehou het, het hier gesê hy is baie bekommerd oor Lomu se gesondheid.
Die bekende All Black-vleuel, wat in 1995 die groot ster was van die Wêreldbekertoernooi wat in Suid-Afrika gehou en deur die Springbokke gewen is, is ernstig siek.
Hy sukkel al jare lank met sy niere en het reeds ’n nieroorplanting ondergaan. Dit wil lyk of dié nier ook nou ingee.
“Ek en Jonah het groot vriende geword nadat ons by die vorige Wêreldbekertoernooi in Frankryk toevallig saam by ’n ete was, en sedertdien het ons gereeld kontak.
“Die terugslag wat hy met sy gesondheid het, is dus ook vir my ’n slegte ding, want ons vriendskap oor die laaste paar jaar is iets wat ek nogal koester,” het Pienaar gesê.
Hy was juis in Wellington om saam met Lomu by ’n middagete op te tree, maar met laasgenoemde wat nou om sy lewe in ’n hospitaal in Auckland veg, moes ’n ander All Black-bekende, John Kirwan, vir hom instaan.
“Ek het juis ingestem om hier te praat omdat dit ’n kans sou wees om ’n verhoog met Jonah te deel, maar intussen gaan ek in die volgende dag of wat eerder langs sy siekbed sit en hom probeer moed inpraat,” het Pienaar gesê voordat hy na Auckland vertrek het om Lomu te besoek.
Die gewese kantman is tevrede met die manier waarop die Springbokke speel.
“Ek glo Wêreldbekers word gewen deur spanne wat ook ’n losskakel op binnesenter kies, en daarom is Frans Steyn se besering ’n kwaai terugslag vir ons.
“Ek dink die Springbokke kan die toernooi wen. Hulle speel op die oomblik goeie rugby en gelukkig is Jean de Villiers daar om Steyn se plek in te neem.
“Jean is self ’n speler van wêreldgehalte en enigiemand wat die Springbokke wil afskryf, moet bereid wees om later eier op sy gesig te hê,” het Pienaar gesê.
“Die toernooi is die All Blacks s’n om te wen, maar een ding is seker, hulle sal moet werk daarvoor. Geen ander span gaan dit op ’n skinkbord vir hulle gee nie,” het hy bygevoeg.
– Sport24
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter