Kiwi’s se vyand teen nuwe hoop
2011-10-13 11:18
In-diepte Verslae
Die Internasionale rugbyraad het onthul dat slegs een speler positief getoets het vir 'n verbode middel tydens die Wêreldbeker in Nieu-Seeland.
Die Springbokke se les uit hul sukkelsege oor Wallis is om nie eens ’n sege oor Namibië as vanselfsprekend te aanvaar in die Wêreldbeker-toernooi nie.
Auckland – Tokorua en Palmerston North, die twee dorpe waar die losskakels Quade Cooper en Aaron Cruden onderskeidelik gebore is, is sowat 300 kilometer van mekaar, maar daar kan nie ’n groter afstand wees tussen dié twee spelers van onderskeidelik die Wallabies en die All Blacks nie.
Cooper is Nieu-Seeland se vyand nommer een nadat hy die All Black-kaptein Richie McCaw tydens die spanne se vorige kragmeting (in Brisbane tydens die Drienasies-reeks) met die knie in die gesig gestamp het.
Sy flouerige spelpeil tot dusver vir die Wallabies is met groot smaak hier deur die Kiwi’s uitgebasuin en selfs die aantal foute wat hy in die kwarteindstryd teen die Springbokke begaan het, was ’n artikel in een van die groter koerante hier werd.
Cruden is skielik Nieu-Seeland se groot hoop nadat beserings Dan Carter en Colin Slade uit die toernooi geruk en die All Blacks sonder hul twee voorkeur-losskakels gelaat het.
Cruden moes vroeg in die kwarteindwedstryd teen Argentinië inspring ná Slade se besering en het tekens getoon dat hy dalk net die “verlore seun” kan wees.
Cooper het gister hier die heuningkwas uitgehaal toe hy oor Cruden uitgevra is.
“Hy is ’n baie goeie speler; hy is goed op sy voete, het goeie balvaardighede en sy taktiese skopvoet is glad nie sleg nie,” het Cooper gesê.
“Hy stel ’n klomp vrae aan sy teenstander op talle fronte, maar ons sal hopelik die nodige huiswerk en ontleding oor hom kan doen om vas te stel waar hy kwesbaar is,” het Cooper gesê.
“Ek dink Aaron het genoeg Super-rugby gespeel en het ook al ’n paar toetse (sewe) agter die blad om met selfvertroue in die halfeindstryd te speel.”
Cruden het testikulêre kanker oorwin en ken dus van deurdruk, maar ongeag Cooper se heuningkwas is dit moeilik om te sien hoe hy ’n sterk vertoning kan lewer.
Veral sy skopwerk is verdag en as die Wallabies hom in die hoeke van die veld gaan vaspen, gaan hy sukkel om sy span uit hul halfgebied te kry.
Hy is ook nie ’n sterk verdediger nie en die Aussies se baldraers sal beslis in sy kanaal aanval. Cooper het darem ’n stekie ingekry oor Nieu-Seeland se onvermoë om dié toernooi meer gereeld te wen.
“Ek dink nie hulle sal te veel aandag aan my gee nie, want hulle het hul eie probleme. Hulle was veronderstel om die toernooi nou al drie keer te wen en vanjaar is nie anders nie,” het Cooper gesê.
“Daar is steeds geweldige druk op hulle om die toernooi op eie bodem te wen, so ek is seker hulle is meer bekommerd daaroor as wat hulle is oor my.”
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Beeld