Graham Henry groet
2011-11-01 11:07
In-diepte Verslae
Die Internasionale rugbyraad het onthul dat slegs een speler positief getoets het vir 'n verbode middel tydens die Wêreldbeker in Nieu-Seeland.
Die Springbokke se les uit hul sukkelsege oor Wallis is om nie eens ’n sege oor Namibië as vanselfsprekend te aanvaar in die Wêreldbeker-toernooi nie.
Wellington – Slegs nege dae nadat hy die Webb Ellis-trofee gelig het, het Graham Henry Dinsdag onthul dat hy die leisels neerlê as afrigter van die All Blacks.
Henry het gesê dat hy na agt jaar en 103 toetse as All Black-breier, "genoeg gehad het".
Maar die 65-jarige het bygevoeg dat hy talle oorsese aanbiedinge van die hand gewys het om in Nieu-Seeland te bly en plaaslike afrigters te help ontwikkel.
"Dit was 'n ongelooflike voorreg om die All Blacks af te rig en ek is baie trots op wat die span die afgelope agt jaar tot die All Blacks se nalatenskap gevoeg het," het hy gesê.
"Ek wil dankie en geluk sê aan al die spelers en veral aan Tana Umaga en Richie McCaw, my langsdienende kapteins."
Henry verlaat sy pos as 'n tevrede man nadat die All Blacks Frankryk met 8-6 in die eindstryd by Eden Park geklop het om die Wêreldbeker vir die eerste keer sedert 1987 te wen.
Die All Blacks het 88 van hul 103 toetse onder sy afrigterskap gewen en spog met 'n wenrekord van 85.4%.
Die Kiwi's het ook 48 van die 51 toetse wat hulle tuis gespeel het, gewen.
"Hy verlaat sy pos as een van die beste afrigters in rugby," het die uitvoerende hoof van die Nieu-Seelandse rugbyunie (NZRU), Steve Tew, gesê.
Tew het bygevoeg dat besprekings tans plaasvind om Henry as 'n mentor vir afrigters op Super Rugby- en provinsiale vlak aan te stel.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24