Dis ál rowwer vir senters
2011-10-04 07:02
In-diepte Verslae
Die Internasionale rugbyraad het onthul dat slegs een speler positief getoets het vir 'n verbode middel tydens die Wêreldbeker in Nieu-Seeland.
Die Springbokke se les uit hul sukkelsege oor Wallis is om nie eens ’n sege oor Namibië as vanselfsprekend te aanvaar in die Wêreldbeker-toernooi nie.
Wellington – Een se dood is die ander se brood, maar Jean de Villiers verlustig hom geensins daarin dat Frans Steyn op pad huis toe is ná ’n ernstige skouerbesering nie.
Al beteken dit ook dat De Villiers in die Springbokke se oorblywende Wêreldbeker-rugbywedstryde as binnesenter sal begin, eerder as impakspeler, soos wat hy kortstondig geoormerk was.
“Ons was almal jammer vir Frans, maar ek is een van die min ouens wat presies weet hoe hy voel en ek wens daai soort teleurstelling vir niemand toe nie. Nie vir my nie of Frans nie of Dan Carter nie. Niemand verdien dit nie. Dis ’n onbeskryflike slegte gevoel,” het die senter gesê.
Volgens De Villiers, wat groter is as sy pa, André, wat op sy dag ’n WP-slot was, raak die lewe vir senters rowwer. “Selfs vyf jaar gelede was senters van 100kg ongewoon, maar nie meer nie en die botsings raak rowwer. Meer beserings is onvermydelik, maar jy kan nie hieroor begin dink nie. Jou lyf sal sê as jy seer is en intussen moet jy 100% gee en hoop dit gebeur nie met jou nie.”
Oor Sondag se kwarteindstryd teen die Wallabies is hy diplomaties. Hulle sal waarskynlik die onsubtiele Pat McCabe bo die veelsydiger Berrick Barnes kies, maar De Villiers kies nie kant nie. “Albei is uitstekende spelers; McCabe solied en fisiek, Barnes meer vernuftig en met sy skoppe kan hy die druk op (Quade) Cooper help verlig.
“Maar as ons dié week spandeer deur oor hulle bekommerd te raak, mors ons tyd.”
Dat die Bokke weekliks op hul volgende teenstanders fokus, word onderstreep daardeur dat De Villiers eerlikwaar verbaas is om te hoor Suid-Afrika het die minste punte tot nog toe in die groepfase van die Wêreldbeker-toernooi afgestaan – en tot 2003 was daar net drie groepwedstryde per toernooi, teenoor die vier sedertdien.
“Ons het eerlikwaar nie hiervan geweet nie. Maar ja, dis iets om op trots te wees. Veral in die groep (D) waarvandaan ons deurgedring het.”
Hy het gesê al die stryde was leersaam. “Teen Wallis moes ons van agter terugveg, teen Samoa moes ons koel bly. Teen Fidji het alles reg uitgewerk en teen Namibië het ons dinge laat lostorring voordat ons na ons resep kon terugkeer. “Nou’s dit uitklopwedstryde en dit maak nie saak dat ons beter momentum gehad het as die Wallabies nie. Hiervandaan gaan dit oor klein dingetjies en die wip van die bal kan die wêreld se verskil maak.”
Oor Carter se besering wil hy nie praat nie. “Die All Blacks speel teen Argentinië, Louis, weet jy nie?” vonkel sy ou ondeundheid in die oog. “Ons fokus die week net op die Wallabies. Ons ken hulle goed; hulle ken ons goed. Ons moet hul besit by die bron bederf en dis maar dit.”
Ons ken gelukkig vir Jean de Villiers ook goed. Frans Steyn is ’n yslike verlies, maar sy plaasvervanger is ’n yslike rugbyspeler.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg