Bok-losskakels mank én krank
2011-09-19 15:11
In-diepte Verslae
Die Internasionale rugbyraad het onthul dat slegs een speler positief getoets het vir 'n verbode middel tydens die Wêreldbeker in Nieu-Seeland.
Die Springbokke se les uit hul sukkelsege oor Wallis is om nie eens ’n sege oor Namibië as vanselfsprekend te aanvaar in die Wêreldbeker-toernooi nie.
North Shore, Nieu-Seeland – Dit mag nou wel net Namibië wees, maar die Springbokke staar 'n moontlike losskakel-krisis in die gesig vir die WB-groepwedstryd teen hul buurland.
Peter de Villiers het dit duidelik gestel dat hy sy beste beskikbare 15-tal Donderdag teen die Welwitschias op die veld wil stuur, maar intussen het die beseringspook weer 'n draai by die Bok-kamp kom gooi.
Met Butch James wat Maandag se oefening weens 'n seer heup misgeloop het en Pat Lambie wat sukkel met 'n gewrigbesering is die nuus dat Morné Steyn in die bed lê weens griep, nie goed nie.
Steyn het self op Twitter sy afwesigheid by Maandag se spanoefening verduidelik: "Nie 'n baie goeie dag vir my nie...siek in die bed! Dankie vir al die ondersteuning, waardeer dit. Kort week vir ons. Cheers almal."
As nie James, Lambie of Steyn beskikbaar is nie, sal die Bokke op Ruan Pienaar of selfs Frans Steyn se knoppie moet druk.
Intussen het Pienaar gesê hy sien uit om op North Harbour, 'n veld wat beskryf word as 'n "wonderlike oppervlak" vir skoppers, te speel.
Pienaar het bygevoeg dat Namibië vir stewige opposisie sal sorg al het die Suid-Afrikaners 'n 100-tal aangeteken in die twee spanne se laaste kragmeting.
"Hulle het wel hul laaste twee WB-wedstryde verloor, maar die Namibiërs se spel is baie positief. Hulle toets spanne se verdediging en probeer altyd 'n goeie manier van rugby speel."
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24