Beker wink vir Kiwi’s
2011-10-17 07:05
In-diepte Verslae
Die Internasionale rugbyraad het onthul dat slegs een speler positief getoets het vir 'n verbode middel tydens die Wêreldbeker in Nieu-Seeland.
Die Springbokke se les uit hul sukkelsege oor Wallis is om nie eens ’n sege oor Namibië as vanselfsprekend te aanvaar in die Wêreldbeker-toernooi nie.
Auckland – “Kalm bly, almal.”
Dít is die vermaning van die All Black-afrigter, Graham Henry, nadat die Kiwi’s die Wallabies met 20-6 geklop het en daarmee hul eerste eindstryd in die Wêreldbeker-rugbytoernooi sedert 1995 bereik het.
“Die taak is ver van afgehandel. Dit is baie belangrik dat almal verstaan dat ons nog niks bereik het nie. Ons moet ons voete so vinnig moontlik weer op die grond kry en besef dat ons van vooraf moet bou om ons einddoel te bereik.”
Die All Blacks se sege Sondag hier op Eden Park beteken dat hulle weer, soos in 1987 toe die toernooi vir die eerste keer gehou is, teen Frankryk in die eindstryd gaan speel. Die All Blacks het tóé gewen en daarmee die Webb Ellis-beker die enigste keer tot nog toe verower. Sedertdien het die Franse die All Blacks in 1999 in die halfeindstryd en in 2007 in die kwarteindstryd van die toernooi uitgeskakel.
“Dit is ’n reuse-wedstryd tussen ons, is dit nie?” het Henry gesê. “Ons het ’n interessante geskiedenis met Frankryk in dié toernooi en ons het baie respek vir hulle.”
Die breier was vol lof vir sy span nadat hy die Wallabies met goeie rugby getroef het om die eindstryd te haal. “Hierdie was ’n uitstaande vertoning deur die span. Hulle was so dapper vandag en ek is baie trots op hulle. Almal wat opgedraf het, verdien vermelding. Hulle het alles gegee,” het Henry gesê.
“Dit is ’n uitstekende gevoel, maar ons taak is nog nie afgehandel nie.”
Die afrigter was vol lof vir sy agterspelers wat deurentyd die Wallabies op hete kole gehad het wanneer hulle aangeval het. “Dit was baie goed om te sien dat die agterlyn geen foute begaan het nie. Ons spel onder die hoë skoppe was spesiaal. Cory
Jane was uitstaande. Hy is met soveel hoë skoppe gepeper en hy het almal gevang.”
Die All Black-kaptein, Richie McCaw, het sy span se vermoë om druk op die Aussies te plaas, as die sleutel tot sukses beskryf.
“Ons het dit reggekry om die regte rugby op die regte plekke op die veld te speel. Dit het gebeur omdat ons as ’n span gespeel het. Hulle het foute begaan, maar dit was omdat ons hulle daartoe gedwing het,” het McCaw gesê.
Die feit dat skeidsregter, Craig Joubert, nie ter sprake was tydens enige van die mediakonferensies nie, moet as ’n pluimpie vir dié Suid-Afrikaanse blaser beskou word.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg