5 uit 10 vir All Blacks, brom NS-breier
2011-09-11 08:05
In-diepte Verslae
Die Internasionale rugbyraad het onthul dat slegs een speler positief getoets het vir 'n verbode middel tydens die Wêreldbeker in Nieu-Seeland.
Die Springbokke se les uit hul sukkelsege oor Wallis is om nie eens ’n sege oor Namibië as vanselfsprekend te aanvaar in die Wêreldbeker-toernooi nie.
Johannesburg - Spankeuses sou altyd die All Black-afrigter, Graham Henry, se grootste uitdaging in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi wees – en die sege van 41-10 Vrydag oor Tonga in Auckland het hom in daardie opsig opnuut met tameletjies gelaat.
Met Nieu-Seeland se wedstrydplan wat daarop gemik was om die bal te dra en in kontak uit te gee, het die binnesenter Sonny Bill Williams gedy. Hy kan egter ook die flou vertonings lewer wat Henry yslike kopsere kan besorg.
Die Kiwi-breier sal binnekort moet besluit of dit teen taaier teenstanders die moeite werd gaan wees om ’n gevestigde middelveld-vennootskap van Ma’a Nonu en Conrad Smith op te breek. As daar nie akkuraatheid in daardie Sonny Bill-aangeë in kontak is nie, kan beter teenstanders as Tonga dodelik van omkeerbesit wees.
Tog is daar ’n sterk saak om te maak vir ’n binnesenter wat vier keer in ’n wedstryd die off-load kan regkry, want dit kan enige verdedigingspatroon oorhoops laat.
Drie All Black-agterspelers is Vrydag buite posisie gekies – en dit het gewys in die gehalte van die vertoning. Van hulle kan net die regtervleuel Richard Kahui met sy vertoning tevrede voel.
Isaia Toeava was middelmatig op linkervleuel en Nonu was flouerig op buitesenter.
Wat die All Blacks se vertoning betref, was dit middelmatig. Hulle het baie geleenthede geskep, maar swak afgerond. Die rustydtelling was 29-3 in die Nieu-Seelanders se guns, maar die tweede helfte het vir baie frustrasie gesorg.
“Ek sal ons 5 uit 10 gee. Ons het te veel foute gemaak en te veel strafskoppe afgestaan,” het Henry agterna gesê.
Dis seker só dat Tonga ’n bietjie meer het om te bied as jou gemiddelde klein rugbynasie, maar Nieu-Seeland is gewoonlik heelwat meer klinies.
Dit sal verkeerd wees om uit die All Blacks se flouerige vertoning te lees dat hulle onder die druk van verwagting sukkel. Vyf punte en geen beserings nie is al wat Henry gesoek en gekry het.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
- Sport24