Breek dié bose verhoudingsiklus só
2012-07-16 08:12
Hoeveel keer in jou lewe het jy nie al gehoor dat jy moet aanhou probeer totdat jy iets regkry nie?
As jy ‘n sport beoefen, moet jy dit weer en weer en weer doen totdat jy dit regkry om die bal te kry net mooi waar jy hom wil hê.
As jy terugdink aan jou verhoudings of selfs iemand wat jy ken, het dit jou nie al bygeval dat jy elke keer vir dieselfde soort mens gaan nie? 'n Mens beland elke keer in dieselfde destruktiewe verhouding en dis maklik om te dink: leer jy dan nie? Of is jy een of ander sado-masochis wat daarvan hou om seer te kry?
Dr. Stephen Diamond skryf in ‘n artikel, “Sectrets of Psychotherapy: Repetitive Relationship Patterns”, dat ons in ‘n siklus van kroniese herhaling van disfunksionele verhoudings beland. Die mens met wie jy telkemale in ‘n verhouding beland is elke keer in sekere opsigte dieselfde. Hulle lyk dalk dieselfde, het dieselfde stem, het ‘n geneigdheid tot emosionele of fisieke mishandeling, emosionele onbeskikbaarheid, alkohol- of dwelmmisbruik, onstabiliteit, narsissisme of in my geval, onvolwassenheid.
Freud het tot ‘n naam daarvoor – herhalingskompulsie. Freud het die eerste keer hierdie idee bespreek in sy boek,Beyond the Pleasure Principle. Die teorie agter herhalingskompulsie is dat ons iets sal bly herhaal om op die ou end ‘n beter uitkoms te verseker. Ons wil die geskiedenis letterlik heskryf.
Hierdie geskiedenis wat ons wil herskryf is gewoonlik ‘n onvolmaakte verhouding wat ons met ‘n ouer gehad het. Veral, maar nie noodwendig nie, ‘n ouer van die teenoorgestelde geslag. Diamond skryf: “When the early parental relationship is fraught with frustration, disappointment, rejection, abandonment, neglect or abuse, the child is in a precarious spot psychologically.”
Vir die kind om dan hierdie narsisstiese beledigings of aanslag te oorleef, ontken hy of sy die realiteit van die situasie, sowel as die woede, depressie en wanhoop wat daarmee gepaard gaan. Die kind bly hoop dat as hulle mooi soet is, slim genoeg, innemend genoeg of in een woord, perfek is, sal hulle die onvoorwaardelike liefde kry waarna hulle smag. Diamond skryf verder: “The child mistakenly believes the problem with the parental interaction resides in them”.
Oor en oor probeer die kind om iemand anders te wees – iemand wat meer aanvaarbaar is vir die ouer. Wat die kind (en later die grootmens) nie besef nie is dat die probleem glad nie by hulle berus nie, maar by die ouer.
Ons bly hoop. Soos Andy Dufresne in The Shawshank Redemption vir Red sê: Hoop is die enigste ding wat ons aan die gang hou. Sonder hoop sal ons doodgaan. Terwyl ons hoop het, sak ons nie in daardie diep, donker gat van wanhoop in nie.
Die soort mens vir wie ons gaan is hoegenaamd nie ‘n Oedipale keuse nie. Ons bly met elke verhouding hoop dat ons hierdie keer die patroon sal breek. Dat ons hierdie keer die liefde sal vind waarna ons smag en sodoende die einde van die storie verander, die geskiedenis sal herskryf. Die persoon wat gekies word binne die verhouding, moet die plek van die ouer inneem en hul bestaan bevestig.
Maar wat staan ons te doen? Hoe verbreek jy hierdie patroon van herhaling? Kan ons hierdie roetine verbreek deur terapie, boeke of medikasie? Of moet ons dalk met vakansie gaan, genoeg oefening kry – met ander woorde afleiding hê van hierdie verlede? Verskillende dinge werk vir verskillende mense, maar om die verlede in die oë te kyk en te aanvaar is beslis deel van die proses.
Dit klink veel makliker as wat dit is, maar ons weet dat ons nie die verlede kan verander of ongedaan kan maak nie. Wat gebeur het, het gebeur. Wat ons wel kan doen is om ons reaksie teenoor die verlede te verander. Ons kan kwaad wees en rou oor dit wat gebeur het, erken dat dit ons geraak het. Dat ons emosies die moeite werd is. Dat jy gehoor, gesien en waardeer word.
Sodra jy nie meer die kind is wat die ouer probeer tevrede stel nie, kan jy begin om ‘n maat te soek op ‘n volwasse manier. Een wat jou nie gaan seermaak nie – en sodoende kan die siklus uiteindelik verbreek word en kan ‘n nuwe dinamiek in jou verhoudings geskep word.
– Zazza is die skrywersnaam van die voormalige dosent in Afrikaanse letterkunde verantwoordelik vir die Afrikaanse weergawe van die Kama Sutra, die Afrikamasutra. Besoek haar webtuiste hier.
Stuur jou kommentaar aan Zazza
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.