Sportpoësie deur egte helde
2012-02-02 07:08
Elke geslag kyk met sy tyd se bril na sy sporthelde. Elke geslag stry met die volgende een oor wat sy held vandag sou vermag met verbeterde tegnologie, afrigting en geld.
Daarom is dit moeilikheid soek om te sê dié of daai sportman is die beste van alle tye of een van daardie niksseggende oordrywings waarvoor sportkommentators – naas die clichés – so bekend is.
Tog was daar Sondag ’n ware epiese stryd van egte helde toe Novak Djokovic en Rafael Nadal ná 5 uur en 53 minute vir ’n ongelooflike stuk sportgeskiedenis gesorg het. Dit was nie sommer ’n tenniswedstryd om die Australiese Ope te beslis nie.
Ons praat hier van die stof waarvan die Grieke legendes gebou het. Ook word dit nie ligtelik “epies” genoem in hierdie dae waar kitsroem soos springmielies is en mense maklik ná een alledaagse oorwinning helde of legendes genoem word nie.
Die wedstryd het 5 uur en 53 minute geduur. Die vorige langste Grand Slam-eindstryd was tussen Ivan Lendl en Mats Wilander by die Amerikaanse Ope in 1988. Dít het 4:54 geduur. Toe die eerste stel Sondag 80 minute duur, het dit die tafel vir sportgeskiedenis gedek. Maandagoggend om 01:37 het die wedstryd, wat Sondag om 20:00 begin het, geëindig.
Albei spelers het die toeskouers verskoning gevra. Asof hulle omgegee het!
Spansport op sy beste is soos ’n simfonie. Individuele sportsoorte soos swem, gholf, boks en tennis sorg vir momente soos dié wanneer ’n sopraan voor die orkes gaan staan en ’n klank voortbring wat bo die van instrumente uitstyg en betower.
Dit is die tweede keer dat Nadal vir sulke drama sorg. Die vorige keer was met die eindstryd in 2008 tussen hom en Roger Federer, wat deur die tennis-joernalis Bud Collins as die beste in die geskiedenis van Wimbledon beskryf is.
“Dit was die swaargewig-kampioenskapstryd van die tenniswêreld. Ek het 41 eindstryde gedek, waaronder die klassiekes van 1980 en 1981 met Björn Borg en John McEnroe, maar hierdie eindstryd van 4 uur en 48 minute is nr.1.
“Ná die eerste twee stelle het ek gedink Federer se kanse om die sesde titel op ’n streep te wen, is verby. ’n Mens vergeet egter dat atlete op daardie vlak deur selfgeloof eerder as deur selfvertroue gedryf word.”
Wat sou Collins van Sondag se stryd gesê het?
Ek het Pete Sampras in 1997 in die eindstryd op Wimbledon gesien toe hy soos ’n kolos wydsbeen oor die tenniswêreld gestaan het. Hy was toe in wat sportsielkundiges die zero zone genoem het, waar ’n individu só goed is dat hy teen homself meeding omdat sy naaste teenstaanders so ver agter hom is. Met ’n foutlose vertoning het hy die arme Cedric Pioline van Frankryk met 6-4, 6-2, 6-4 verslaan. So op sy gemak met sy eie briljantheid was hy dat hy net een bal per afslaan van die baljoggie aangevra het!
Sondag se stryd was heeltemal anders. Dit was tussen twee mans op die kruin van hul vermoë en met daardie vasbyt wat sê: “As jy my wil klop, sal jy my moet uitslaan.”
Nadal was soos een van daardie staffies vir wie jy ’n bal gooi totdat dit voel jou arm val af. As jy opkyk, sit hy die bal met ’n hangtong en ’n groot glimlag weer voor jou neer.
Djokovic was uit op sy voete, maar het êrens die nodige vonk gekry totdat hy sy hemp van sy lyf geskeur het om sy oorwinning brullend te vier.
Dit was Sugar Ray Leonard en Roberto Duran – die klassieke atleet teen die straatvegter. Nadal kon met die reuk van ’n nederlaag in sy neus soos Duran eens “no mas, no mas” gesê het, maar dié Spanjaard kan nie opgee nie.
’n Nuwe goue era vir tennis het aangebreek en ’n nuwe geslag legendes wag om hul heroïese verhale te skryf. Met Nadal en Djokovic kan dit dalk net poësie wees.
O, die telling was nie belangrik nie.
- Oorpsronklik verskyn in Die Burger
Stuur jou kommentaar aan Willem
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.