Die tongpunt waar aards en goddelik een is
2012-02-08 07:11
Dis ’n jaarlikse ritueel dié – hoe Valentynsdag se bemarkers woeker en smous met die eeue oue verband tussen kos en liefde.
Daarvan getuig die horde Valentynsdinees met die belofte dat goedgekose kos die smaaksintuig sal oorrompel en liefdespassie blosend hygend hert sal opwek.
Alles so saam met dowwe kerslig, soet sjokolade, rooi rose, die boeket van wyn en strelende musiek.
Dié verband kom al eeue lank met ons saam. So byvoorbeeld vertel die kunste die verhaal van geliefdes se aptyt vir mekaar; dat hulle mekaar wil verslind en opeet van liefde.
In Henry Fielding se Tom Jones is daar skreeusnaakse, eroties gelade tonele waarin die “fair warrior” (Mrs. Waters) met haar “volle amoreuse artillerie” tydens ’n ete poog om die held (Tom Jones) se hart te verower.
En hoe het hulle nie saam geswig nie! Soos die gelyknamige 1963-fliek gewys het toe hulle gulsig aan hoenderdytjies gesmul het; met hul oë blink, vasgenael op mekaar.
Isabel Allende se boek Afrodita is gewy aan die erotiese verband tussen kos en liefde.
Meer verstandig moet mens vra of kos en liefdespassie inderdaad saamhang.
Die Amerikaanse regering reken “daar is geen wetenskaplike bewys dat enige soort kos die libido verhoog nie”.
So, nou weet ons die anekdotes oor die erotiese prikkelwaarde van kos is praatjies vir die vaak.
Seekos, (liefdes)appels, aarbeie, granate, sjokolade, truffels, neute en speserye doen nie die liefdesdinge vír jou nie.
Sal mens dan maar liewer konsentreer op liggaamsorg, kalorietellings en gesonde goeters in kos? En op Valentynsdag die geliefde verlei met:
“My lief, kry ’n bietjie van die omega 3 saam met ’n knertsie visolie en ’n happie kelp. En wat van ’n antioksidant, magnesium met stadige vrystelling en ’n hand vol vitamiene?”
Ja, ter wille van die gesondheid, maar duisend maal nee ter wille van die liefde!
Want die verband tussen kos en liefde, hoe onbewysbaar ook al, is ’n feesviering van die mens op sy simboolmakende beste; dat ons die hooglied van passievolle liefde goed genoeg begryp om elke greintjie en krieseltjie lewensinhoud daarmee in verband te bring – insluitend geure, kleure, vorm en teksture. Alles saam die wulpsheid en wellustigheid van kos.
Valentynsdag is weliswaar ’n kommersiële uitbuiting daarvan, maar bevestig terselfdertyd durende liefde tussen liefdesmaats het “voeding nodig – in die altyd skommelende bestanddele (bestande dele) van passie, vriendskap en toewyding aan mekaar”.
Daarom kan mens maar op Valentynsdag gaan uiteet in afwagting van ’n nagereg, of tuis bly en saam met die geliefde geregte (én nageregte) voorberei.
Want om in liefde saam te eet, is mos ’n soort geestelike ritueel waardeur dit wat aards is en dit wat goddelik is mekaar ontmoet in die lyf se spraak en in die siel se taal.
- Oorspronklik verskyn in Beeld
Stuur jou kommentaar aan Wilhelm
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.