Die omstanders hyg van walging
2010-03-10 08:40
Homo corruptus! wil ’n mens uitroep as jy deur die koerante blaai en byna daagliks berigte lees oor mense wat mag en posisie skandelik vir eie gewin aanwend.
Mense hou nie meer van die woord “sonde” nie. Maar korrupsie – waardeur mag misbruik word om jouself te verryk – is waaragtig ’n sonde teen die mensdom.
Korrupsie kom egter nooit alleen nie. Dit lê sy aan sy met die sogenoemde “sewe doodsondes”: hebsug, hoogmoed, afguns, woede, luiheid, vraatsug en wellus. Kyk maar hoe voed hulle mekaar oor en weer in ons kontrei:
Korrupsie word aangedryf deur hebsug – die begeerte om méér en nog méér te hê. Die ou versoberende identiteitspreuk: Ek dink, daarom is ek, is nóú: Ek versamel, daarom is ek.
Voeg hierby hoogmoed en die versameldrif duur voort in die trant van: Dit wat ék besit, plaas my ’n paar trappies hoër as ander. Kyk hoe blink ek en my motor!
Dít laat die vuurtjies van korrupsie opnuut opvlam by diegene wat die groen draak van afguns vertroetel: Ons het (nog) nie wat hulle het nie! Vryf dan die handjies en kyk grootoog rond na nog dinge wat gevat kan word.
Saam wek hoogmoed en afguns ook woede.
Woede by dié wat nie vinnig genoeg kan inoes nie en woede by dié wat vir alles agter in die tou moet staan en aangewys is op beloftes én wag en wag en nog wag ...
Daarmee glip luiheid soos ’n dief in die nag by die agterdeur in.
Daar is mos makliker en vinniger maniere om te versamel en glansryk te leef.
Wie kan nou werklik vorder en lekker leef volgens ’n werk-etiek wat praat van harde werk, geduld, spaarsamigheid, selfdissipline, vaardigheidsverwerwing, kennisverbetering en dienslewering aan ander?
So gaan dit jollie-patrollie voort ter wille van ’n sinsgenietende leefstyl.
En daarmee stap vraatsug en wellus hand om die lyf by die voordeur in.
Soos Jan Rabie dit beskryf in die makabere verhaal “Drie kaalkoppe eet tesame”:
“(Hulle) swaai op en af in die woeste vaart van hul eet. En terwyl hulle al vinniger eet, kwylend van ongeduld, gebeur ’n vreemde ding: sodra ’n nuwe bord voor hulle neergesit word, neem die inhoud daarvan menslike vorms aan ... Die omstanders hyg van walging, maar die drie kaalkoppe gewaar niks daarvan nie ...
“Hulle eet met ontstellende wellus, en vergeet selfs om die strome vet wat van hulle wange loop af te vee. Hulle gun hulleself geen verposing tussen elke stuk mensvlees nie ...”
Daarmee, meteens, weet ’n mens wat die allesvretende monster homo corruptus beteken: Die mens wat, volgens die oorspronklike Latynse woord, “breek en vernietig”.
Wat vernietig word, is mense se reg op menswaardigheid en die hoop op ’n beter lewe. En saam daarmee skeur die laaste vesels van ’n samelewing se etiese weefsel.
In ’n skildery, Ixion se val, beeld Cornelis van Haarlem (1562-1638) ’n drastiese “oplossing” uit: As simbool van korrupsie en sewemalige sondigheid tuimel ’n groteske, naakte vet man met angsgevulde oë al skreeuend ’n vlammeruimte in.
Dít na aanleiding van koning Ixion, ’n opperste skurk en wellusteling in die Griekse mitologie.
Hy kry van Zeus ’n laaste vergunning om tot inkeer te kom, maar slaan dit in die wind en gaan wellustig aan.
As straf laat Zeus hom vasbind aan ’n wiel van vuur en verdoem hom tot ’n ewige wentelgang in die vlammende Onderwêreld.
Ons leef egter nie in ’n goderyk van maklike en wrede oplossings nie.
Te midde van ’n onbeholpe, koerslose owerheid wat (self-)vernietigend voortstrompel sonder krag of die wil om op te tree, lê die oplossing in onsself – in landsburgers se kollektiewe verset teen elke doodsondige versuim en vergryp.
- Oorspronklik verskyn in Beeld
Stuur jou kommentaar aan Wilhelm
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.