Mogoeng: Dís die redes
2011-09-09 08:01
Aan die einde van die week waarin Suid-Afrika se regbank aan regter Mogoeng Mogoeng toevertrou is, lyk die telbord so: rasse-dweepsug 1; nie-rassigheid 0.
Zanufikasie, wat handel dryf as die ANC se “nasionale demokratiese revolusie”, het dié veldslag verspot maklik gewen. Die ANC en pres. Jacob Zuma doen nou met die regbank wat Bob Mugabe en Zanu-PF met Zimbabwe s’n gedoen het: Laai dit gaandeweg met regters wat die soort uitsprake sal lewer wat die regerende party wil hê.
Mogoeng is net die begin. Nog soos hy is op pad. Gwede Mantashe, deesdae meer Gauleiter as sekretaris-generaal, het tien dae gelede al kennis gegee: Regters wat teen die ANC-regering beslis, is “teenrevolusionêre”. Wat by implikasie vervang moet word deur “patriotte” wat die ANC se nasionale demokratiese revolusie (NDR) steun.
Die media en ander burgerlike instellings moet hul stryd teen die inligtingswetsontwerp so gou moontlik voor die konstitusionele hof kry. Tans is daar nog genoeg regters op daardie bank wat die Grondwet hoër ag as die ANC se wense. Dit gaan nie so bly nie.
Ferial Haffajee, redakteur van City Press, het vandeesweek getwiet: “Dinge wat ek oor ons geleer het: Ons is tevrede met die tweede beste, hou van ’n underdog en is nou ferm ’n konserwatiewe nasie.”
Sy klink teleurgesteld, miskien selfs ontnugter. Op een punt is haar vlymskerp enkelsin-diagnose van die Mogoeng-kwessie nie korrek nie: dis nie “ons” wat tevrede is met tweede beste nie, dis die ANC. Al fout wat “ons” maak, is om die ANC daarmee te laat wegkom. In verkiesing op verkiesing.
Dit was nietemin ’n teleurstelling om te sien regters soos Bernard Ngoepe (regter-president in Pretoria) en Lex Mpati (appèlhof) raak deel van die rasse-gala waarop Mogoeng se verskyning voor die Regterlike Dienskommissie (RDK) uitgeloop het. Hulle is albei toonbeelde van die ou Romeine se civitas, integritas en gravitas.
Hoe hulle ’n leier kon instem wat so skreiend tekort skiet aan juridiese gravitas is onbegryplik. Sensitiwiteite oor ras en velkleur gaan duidelik nog baie lank met ons wees. Raak gewoond daaraan.
Ngoepe was baie gebelg oor die bedenkinge wat uitgespreek is oor Mogoeng sedert die nuus oor sy destydse “ontplooiing” na Konstitusieheuwel, setel van die konstitu- sionele hof in Johannesburg, bekend geword het. Ngoepe en ander het dit beskryf as ’n ongekende vendetta teen Mogoeng.
Die ergste wat ek gesien het, was die spotprenttekenaar Zapiro se sinspeling met die woord “moegoe” op die aangewese hoofregter se naam en van. Dit was buite perke. Maar van wanneer af klim jy in iemand se karakter in as jy bloot vra of die mens geskik is vir ’n taak?
Buiten dat Zuma toondoof is vir die kritiek belangrike kwessie van ’n onafhanklike regbank wat hier en in die buiteland gerespekteer word, is daar ’n dieper rede waarom hy ’n inskiklike ampsbekleër as hoofregter wil hê: Die moontlike terugkeer van sy nagmerrie genaamd probleme met die gereg.
Zuma kon hom vernuftig loswikkel uit die korrupsieklagte. Dit beteken egter nie daardie getuienis, geweeg en aanvaar in die appèlhof, het verdamp nie. Sulke getuienis is soos ’n weerbarstige koorsblaar: wanneer jy dit glad nie verwag of kan bekostig nie, verskyn dit skielik.
Vir daardie dag moet voorsorg getref word. Die doodmaak van die Skerpioene en hul vervanging deur die Valke, onder regstreekse politieke beheer, was die eerste stap. Toe is adv. Menzi Simelane, van lae oktaan en ’n plooibare kader, nasionale vervolgingshoof gemaak. Bheki Cele, polisiehoof, was vroeg reeds in posisie en sal daar bly – ongeag wat adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer, oor die Roux-Shabangu-transaksies bevind.
Regter Dikgang Moseneke het nooit regtig ’n kans gehad nie.
- Oorspronklik verskyn in Beeld
Stuur jou kommentaar aan Tim
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.