Wat sou Dominee hiervan sê?
2010-11-02 07:42
Ek woon nie genoeg kerk by nie.
Graag sou ek meer in die aller heiligste gebou tussen my medegelowiges wou gaan sit in die teenwoordigheid van die alomteenwoordige Liefde.
Maar ek was nog nooit een vir groepsaktiwiteite nie. ‘n Spanspeler is ek nou eenmaal nie.
Hel, teen die tempo wat ek kan vloek wanneer ek ‘n skroef se moer afdraai, die poespas van woorde wat uit my mond vloei – ‘n mengsel van skoolbadkamer-Afrikaans en die taal so uit die oude doos – laat selfs my nooi soms wonder van my geloofsoortuigings.
Ek twyfel egter glad nie in my geloof nie – of in die wysheid van my dominee nie. Hy het een Sondagoggend vanaf sy kateerder ‘n dorp van sondaars probeer bekeer, en ‘n uitlating gemaak wat my vir altyd sal bybly. My dominee het gesê mense raak hier teen jaar-eind altyd “effe vreemd”. Hulle voel krapperig, lus vir verandering en sommer net keelvol.
My dominee het my twee dinge geleer: Eerstens, dat ‘n mens teen hierdie tyd van die jaar net moet vasbyt en tweedens, dat mense dit so bietjie verloor wanneer die kalender aan die dun kant kom.
Nouja, ek dink daar is min mense wat nog nie gatvol vir die jaar 2010 is nie. Ons sal maar net moet vasbyt: binnekort braai ons in die baai.
Dis nou as ons dit nie heeltemal verloor voor dan nie.
Ek kyk so na ‘n paar bekende mense wat nou weer ‘n lelike geval van voet-in-die-bek-sindroom opgetel het die afgelope ruk.
Sunette Bridges, Julius Malema, Herschelle Gibbs en selfs onse president.
Laasgenoemde wat sy kabinet-skip so skommel dat hulle sekerlik al groen in die kiewe moet wees van dronk-deurmekaar voel. (Dis nou meer dronk-deurmekaar as gewoonlik). Sewe ministers gepos! Sjoe, meneer Zuma, maak jy die poorte oop tot die sewe vlakke van die politieke hel vir dié spul...
Dan is daar tannie Sunette. Ons almal se ouma se gunsteling wyle sanger se dogter. Sy’s mos die blonde enetjie wat so wyle terug gaan staan en sing het in ‘n optrede teen misdaad, voor omtrent sewe mense.
Sien, ek is nie seker nie, want nadat sy rassistiese aanmerkings op haar Facebook-blad gaan staan maak het, het sy haar profielfoto mos groen gaan maak. So, dalk sal ek haar nie aan haar haarkleur kan uitken nie. En speel enige van haar liedjies in enige plek op aarde, sal ek dit nie herken nie.
Nee wat, ou Sunette is geen ruiter van die windjie. Al slaat sy so hard soos jy wil met daai sambok, daai perdjie is lankal poot-uit. Haar Skip is gesink.
Sy breek darem nie soveel wind soos onse maat Julius nie. Dié mannetjie wat mos vir Helen Zille ‘n ‘kakkerlak’ gaan staan noem het die naweek in Stellenbosch. Kameraad, jy kort nie ‘n Afrika-revolusie nie. Jy kort nie verdeling van rykdom nie.
Wat jy kort is ‘n warm pak slae. Net nie met hin sambok nie! Maar jou disrespek teenoor ander (en in hierdie geval ouer) mense is die toppunt van wansmaak. Jy kraak enige moontlikheid van versoening in ons land af.
Julius, jy moet gaan kakkerlak.
En hoe laks is onse Herschelle nie? Seker te oud om ‘n krieketkolf op te tel, nou swaai hy maar na sy spanmaats. As sekere Proteas besluit het om wortel te gaan skiet in vreemde grond, het dit mos niks met enigiemand uit te waai nie. Die ongeskrewe reël lui mos: dit wat op toer gebeur, bly op toer.
Maar dalk het dié speler dit vergeet. Hulle sê mos dagga boul die geheue uit. In elk geval, elke woord wat uit die ‘pen’ van ‘n ou kom wat eens verkondig het dat hy in sy lewe nog nooit ‘n boek gelees het nie, sal ek met ‘n sak sout vat...
Nee kyk, sout van die aarde is sommige van ons net glad nie.
Ek het sopas weer gevloek.
Sal maar weer ‘n plek in die kerk moet gaan soek. Of minstens sal ek net bid ons maak dit deur hierdie moeilike, mal tyd.
– Peet van Aardt is Nuus24 se nuusredakteur. Volg hom op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Peet
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.