Waarom die ANC altyd (sal) wen
2011-05-25 08:02
My kollega gooi sy arms in die lug.
Hy is hoogs ontsteld weens die berig oor die duisende mense in die ANC-wyk Bizana in die Oos-Kaap wat protes aanteken omdat hul beweer die wykraadslede wat aangestel is, nie dié is waarvoor hulle gestem het nie.
‘Waarom stem daardie mense dan vir die ANC!?’ wil my kollega weet.
Met basiese dienste wat in soveel gebiede afgeskeep word, skandale wat byna weekliks ons land se politieke landskap bevlek en meer uitvalle en aantygings in ons regerende party as op The Young and the Restless, vra baie mense hierdie vraag.
Waarom stem die massas weer vir die ANC?
Die antwoord is doodeenvoudig, dog ‘n raaisel. Maar kortom: die ANC is soos Coke.
Hoeveel van ons drink Coke, geniet Coke, is mal oor Coke? En waarom? Persoonlik kan ek sê dis omdat ek grootgemaak is met Coke dat ek ‘n groot liefde vir dié drankie ontwikkel het. Dis dalk meer as net ‘n liefde, dis deel van my natuur. Verlede jaar was ek Botswana toe, en ek kon net ‘n paar dae gaan sonder my gaskoeldrank. Dank Vader vir landelike winkeltjies!
Coca-Cola is ‘n handelsmerk wat ek vertrou. As ek rooi-en-wit sien, dan dink ek: lafenis vir die keel.
En dit is hoe die oorgrote meerderheid kiesers in Suid-Afrika voel oor die ANC, oor die groen-en-swart-en-geel. Dit is soveel deel van hulle lewe soos my glasie Coke tydens my aandlikse ritueel om die etenstafel.
Wat is die vernaamste opposisie dan?
Die DA is Pepsi. Dis mos die ‘keuse van ‘n nuwe generasie’. (Is dit nog die koeldrank se slagspreuk?)
Terwyl ek gekyk het hoe die uitslae van die plaaslike verkiesings deursyfer op Nuus24, het ek aan twee dinge gedink: Eerstens dat Cope eerder ‘n verslankingsmiddel as ‘n gaskoeldrank is, en tweedens het ek gedink aan ‘n advertensie wat jare gelede in Amerika vertoon is: Dit is van ‘n gespierde man wat sukkel om ‘n trok vol Coke vas te hou terwyl die voertuig oor die rand van ‘n bergpas hang.
Die trok vol koeldrank se lot is letterlik in die man se hande. En met sy bultende spiere glo die kyker hy sal die ding kan terugtrek – en beste van alles – dan ‘n trok vol Coke hê. Totdat iemand verbykom en vir hom ‘n Pepsi aanbied. Dan los hy die trok dat die ding by die afgrond aftuimel en sluk die Pepsi af met ‘n Addamsappel wat op en af bons van plesier.
Nou ja, baie mense beskou die ANC as ‘n trok wat beheer verloor het (omdat die bestuurder homself nie aan die padwette steur nie?) en dat die Suid-Afrikaanse kiesers daardie man is wat die voertuig met ‘n gesukkel aan dié kant van die afgrond hou.
As die spiertier tog net die Pepsi wil kies bo die trok!, hoop soveel. Want al wat jy kry as jy só ‘n trok terugtrek op die pad is ‘n grootskaalse wind-brekery wat stink na leë beloftes.
Maar hierdie is nie Amerika nie. Die meerderheid gaan nie vir die bottel Pepsi gaan nie.
Die ‘Waarom?’ gaan vir my kollega ‘n groter geheim as Coke se resep bly.
Vir ander mense is die ‘Waarom?’ net tweede natuur.
- Peet van Aardt is die hoof van digitale inhoud vir Media24 se reis- en motortydskrifte. Volg hom hier op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Peet
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.