Vra, Woolworths, en jy sal ontvang
2010-10-21 07:00
Ek moet bely: ek doen nie my inkopies by Woolworths nie.
Dit is nie vanweë geografiese beperkings nie – hier is minstens drie Woolies-takke op die dorp.
Ek vermy nie die plek weens enige gesondheidswaardes of geloofsoortuigings nie (my ma slag my af as sy hierdie lees, maar ek is ‘n ongesonde eter. Nie heeltemal ‘Free Range’ nie).
Nee, ek sit nie my voete in hierdie winkel nie, omdat ek dit eenvoudig onbekostigbaar vind. Dis veels te ‘dubbelverdieping’ vir hierdie ‘pondok-Peet’.
Maar een ding is seker: Ek haal my bandana af vir Woolworths. Hulle het my - en hopelik 'n hele paar joernaliste wat al te maklik die belangrikheid van iets soos Facebook wil afskiet - 'n bietjie wyser gemaak.
Na hul aankondiging om Christentydskrifte van hulle rakke te verwyder, was die hel natuurlik los.
Die winkel se Facebook-blad het in ‘n religieuse oorlogveld ontaard waar Christene en nie-Christene om daad en meestal Woord baklei het vir waarin hul glo. Of nie glo nie.
Die Christene het gesê hul lig word deur Woolies uitgedof. Die ongelowiges voel weer daar is beter dinge om voor te leef, en die skeptici het die geleentheid gebruik om te juig met hul verbale stekies.
Alles wat seer sekerlik nie veel joy vir die winkelgroep besorg het nie.
Maar toe gebeur die wonderwerk, die spreekwoordelike bloed wat uit die kapitalistiese klip getap word: Woolworths luister na hulle kopers, vra op hul Facebook-blad om verskoning en kondig aan dat Christentydskrifte op die rakke sal bly.
Wel gedaan, Woolworths. Julle het gehoor gegee aan jul daaglikse brood!
Die sage leer ons ‘n paar dinge:
1 . Jy karring nie met mense se geloof nie. Dis ‘n sensitiewe saak. Meer nog as emigrasie of rugby. Of dalk nie rugby nie - soms word dié spel verwar met geloof, veral in Suid-Afrika.
2 . As die gelowiges dan so sterk voel oor hul tydskrifte, moet hul uitgaan en dit koop. Woolworths het dit duidelik gestel dat die titels (Lig, Lééf, Juig en Joy) van die rakke gehaal sal word omdat dit nie genoeg verkoop nie.
Dit was ‘n besluit vanuit ‘n besigheidsoogpunt. Ongelukkig raak dinge nou eenmaal warm as jy besigheid en geloof meng. Tensy ‘n sjarmante dominee van ‘n charismatiese kerk is. Dan kan jy woeker met die gemeente se geld totdat jy opeindig met meer geldnote as wat daar vlamme in die hel is.
3 . Mense moenie die mag van sosiale en digitale media onderskat nie. As ‘n joernalis wat die skuif van koerante na die aanlyn-arena gemaak het, hoor ek gereeld ons eweknieë aan die ander kant van die draad (‘smal pad’), vra of die platform waarop ons werk (‘breë pad’) werklik ‘n bydra lewer.
En soms waai beskuldigings links en regs dat aanlynjoernaliste te veel staatmaak op goed soos Facebook of Twitter. Nou ja, hierdie Christentydskrif-sage het homself uitgespeel op Facebook, en lank voordat vandag se nuus môre oggend saam met die eerste bottels vars melk by die naaste Woolies afgelewer word, kon ons in die aanlynwêreld al die nuus oordra dat Woolworths van psalmdeuntjie verander het.
4 . Ons moet leer dat Suid-Afrikaners se stemme gehoor kan word. Skuif die geloofsoortuigings eers opsy en kyk na wat hier gebeur het: Die gewone (middel-tot-hoërklas) persone daar buite het hande gevat, saamgestaan en uitgevaar teen ‘n groot, ryk en gevestigde entiteit. En die kapitalistiese instelling moes die knie buig. Jissie, as ons maar net só kon opstaan teen misdaad of saamstaan en uithelp met dienslewering!
5 . Laastens: as ek ‘n grootkop by ABSA was, het ek notas geneem en geleer by Woolworths.
Sela.
* Peet van Aardt is Nuus24 se nuusredakteur. Volg hom op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Peet
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.