Van 'n six pack na 'n vaatjie...
2011-03-04 07:37
Nuwejaarsvoornemens is vir die voëls.
Die woelige Margate-vakansie of Nature’s Valley-wegbreek is al ‘n geruime tyd iets van die verlede, en so is my plat maag ook.
Al die herinneringe van braais saam met my voormalige toekomstige skoonouers klou nog aan die heupe, en ek ontwikkel al amper ernstige rugprobleme weens daai magie. Vergeet van ‘n “six pack”, nou dra ek ‘n vaatjie!
Een van my nuwejaarsvoornems was om (beter) na my lyf te kyk. Soos soveel ander mense s’n ook maar was. Geen pryse vir oorspronklikheid nie. Behalwe Virgin Active: hulle ontvang gróót prysgeld.
Maar na die vakansie word ‘n mens mos weer deur die werklikheid deur die gesig geklap: jou werksverpligtinge, die rekeninge, jou buurman se laatnag musiek.
Dan tref ‘n laatsomer-hittegolf en dit voel of ek in elk geval myself weer terug in “vorm” in sweet. Maar natuurlik gebeur dit nie, want om af te koel gryp mens weer ‘n yskoue biertjie, en stelselmatig verander die borskas in ‘n hangkas.
Dalk is jy – soos ek – maar lief vir eet. Niks fout daarmee nie. My magie is soos my troeteldier. Soos my eie varkhondjie: so lelik soos die nag, maar MYNE. En dus het ek hom lief. En hierdie liefde lei my al te maklik verder die verderf (of is dit nou bederf?) in, veral wanneer ‘n mens blogs oor iets soos die Richmond rib raaklees. My mond water meer as ‘n politikus se familielid as hy die woord ‘tender’ hoor!
Voor ek my kan kry is die skuldgevoel oor daardie wonderlike, vergete voornemens weer terug.
Die nooi het haar plate gepak en die pad gevat (nie oor my magie nie, maar omdat sy wou reis). Dan is dit net ek en my troeteldier / vaatjie oor.
Gelukkig het ek nog ‘n paar rand oor. Ek het nie – soos soveel ander mense met hierdie voorneme – my aftreefonds in die gym se rekening oorbetaal tydens die vakansie se ‘spesiale afslag’ tydperk nie.
Toe Bheki Cele dit ontbloot het dat sy R500 miljoen se polisiestasie bedoel was om ‘n gim in te hê, het my hart amper gespring. En nee, dit was nie weens die kolesterol nie.
Daar’s my uitkoms nou! Ek is mos al amper rond genoeg vir ‘n polisie-uniform, so dalk maak hulle die SAPD Active oop vir die publiek.
Dink net – niemand gaan dáár jou selfoon uit jou toksak steel nie!
Dit sou die ideale geleentheid wees om onse publieke beskermers beter te leer ken. Miskien sou die boeties in blou my met hul pistole laat speel, of my toelaat om my maat in die badkamer aan die wasbak vas te boei vir ‘n grap.
En dan, na die gym-sessie, sou ek graag by van hulle gaan kuier het om ‘n vuurtjie aan te steek en ‘n lekker vleisie braai.
Ai, die lewe loop maar in sirkels. Of in hierdie geval: rondings...
- Peet van Aardt is die hoof van digitale inhoud vir Media24 se reis- en motortydskrifte. Volg hom hier op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Peet
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.