Tussen Div, Anneli en die donkerswart taxi
2010-12-03 07:13
Dit sal verkeerd wees om mekaar se ratkaste te krap, so ek stel een ding duidelik: ek hou nie van taxi’s nie.
Hulle ry soms gewetenloos, is op die oog af onpadwaardig en sommer net astrant op die pad.
En ek verstaan nie vir Anneli Botes nie. Net soos sy nie sekere swartmense verstaan nie, en dus nie van hulle hou nie.
So, toe ek vandeesweek genoop is om ‘n taxi na die volgende dorp te vang, was my kop ‘n minibus volgepak met vooropgestelde idees en vrese. Maar my hand gevul met presies die regte hoeveelheid kleingeld. Tot op die laaste sent.
Noem dit kultuurskok. Noem dit ‘n openbaring. Noem dit noodsaaklikheid. Op skool het ek en my pelle telkemale taxi gery: wanneer Warren se pa weier om ons bioskoop toe te neem, of ons saam met Nardus (dominee se kind) stokkiesdraai by die comic book-winkel in Braamfontein. Een keer was ek sonder toestemming op pad na ‘n vriend se huis, en die taxibestuurder het die voertuig met ‘n bobbejaan-spanner bestuur. Ja, daar waar die stuurwiel moes wees het hierdie gereedskapstuk uitgesteek. Maar dit het nie die bestuurder verhoed om te jaag nie!
Toe ek vandeesweek vir die eerste maal in 15 jaar by die stasie kom om my taxi te vang, was ek verras.
Eerstens oor die ‘nuwe’ taxi’s. Daai wat die regering uitgerol en afgedwing het so vier jaar gelede. Hierdie voertuie het plek-plek sitplekgordels!
Ook was ek verras om te sien hoe knaend bedelaars die taxibestuurders pla.
Jip, dit is nie net ons witmense wat in parkeerareas buite winkelsentrums lastig geval word met die elle lange stories van ellende en swaarkry nie. By die taxistasies is daar karakters wat die voertuie help volmaak. Hulle ‘werf’ sowaar mense vir ‘n bepaalde taxi en sodra die ding dan visblikvol is, eis die ‘werwer’ ‘n paar los muntstukke.
Hy kry egter net ‘n mond vol vloekwoorde.
En daar ry ons, 23 mense in ‘n 17-sitplek taxi, om die draai en af in die straat. Van die passasiers skree ‘driver!, driver!’ om hul misnoë oor die volgepakte voertuig uit te spreek. Maar ou Driver draai sy CD-speler net bietjie harder.
Gospelmusiek. “He deserves our praise” sing iemand begeesterd.
En ek rig my oë ook na bo.
Ek laat my gedagtes gaan; op soek na afwyking.. ontspanning. Ek dink aan rugby, maar al wat my brein herroep is teenstellende berigte wat die een dag luid verklaar dat Peter de Villiers se kop gaan rol (oftewel ‘Base kry’, soos die venynige opskrif gelui het). Die volgende dag word daar weer aan die rugbyvolk verkondig dat die afrigter se pos veilig is. Vir nou.
Ek raak skoon naar, maar dit kan van ou driver se bestuursvernuf ook wees.
Die taxi swenk na links, ry in die noodbaan. Net voordat ons die verkeerslig tref, swaai ons na regs voor die ander, stilstaande motors in en beur vorentoe in die baan.
Nee, dink ek. Vergeet van die rugby. Ons Bokke doen heel oukei – ek is trots en sal trots op hulle bly, al is die span eendag so swart soos die binnekant van hierdie taxi.
Al te dankbaar sien ek die swart ysterpaal agter die bestuurder se sitplek wat van die dak tot die vloer strek. Die gryp ek met my een hand terwyl die ander my presiese kleingeld vasklou.
Kleingeld, kleinwees. Ek dink aan Anneli Botes se uitspraak en watter reaksie dit oorsee ontlok het. Wat sy moes gedink het, is vir my ‘n raaisel.
Ons Afrikaners is al so keelvol om gestereotipeer te word as Rassiste, maar tog kry ons dit altyd reg om ons eie ondergang te bewerkstellig.
‘Wat dink my medepassasiers van my?’ wonder ek skielik, selfbewus.
Maak dit saak? Net soveel soos dit sou saakmaak as ek in ‘n vliegtuig vol witmense gesit het.
Wat kon ek doen of sê? Ek moes in die volgende dorp kom en die taxi was my geleentheid. Hierdie boer had ‘n plan, en die taxibestuurder maak klaar.
Dis eers toe ek afklim en my betaling aan die bestuurder oorhandig, dat ek besef hoe klam die kleingeld is.
– Peet van Aardt is Nuus24 se nuusredakteur. Volg hom op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Peet
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.