Onthou nog die dae...
2011-04-12 07:28
Ek onthou die goeie ou dae.
Die dae toe ek nog snags buite kon rondloop en padbordjies met akkers gooi sonder om my lewe in gevaar te stel. Toe ek nog luidkeels my mening kon uiter sonder om myself oor die pyn wat deur die woorde veroorsaak word te bekommer.
Die tyd toe ek as wit jongman gesien en gehoor kon word.
Maar dit blyk daardie dae is iets van die verlede.
Dit voel asof ek nooit weer ‘n verandering in seisoen gaan kan geniet nie.
Um, hoe nou?
O, skuus. Hierdie skrywe is nie oor politiek nie. Dit gaan oor gesondheid. Of die afwesigheid daarvan, in my geval. Dit gaan oor daardie boosaardige griepgogga wat ons so in sy greep vasgryp en alle lus vir die lewe uit ons lywe wurg.
Nou dat ek egter daaraan dink, kan hierdie geskryf dan júís met die politiek verbind word. Jy hoef maar net na die naaste koerant te kyk om te lees van minister Sicelo “Sheikh” Shiceka se spandabelrige lewenstyl op die belastingbetaler se onkoste, ou F.W. se kleinkind uit die Boland en die regering se blatante openbare ondersteuning van rassisme.
Laasgenoemde ten spyte van die kiesers se gevoel oor die saak. Maar wanneer (laas) het politiek in ons land oor die kiesers gegaan?
Leiers, julle maak nie reg nie en jul teenstellende gegatkruipery nou by die mense so kort voor die verkiesings is om van voor af siek te raak.
Maar wag, hierdie is nie veronderstel om ‘n politieke rubriek te wees nie. Ons gaan die volgende ruk meer as genoeg propeganda opgedis word. Dank Vader die politieke praatkouse verdwyn na die verkiesings so vinnig soos kontant uit ‘n staatskoffer.
Kom ons los die politiek vir nou, soos my oom Johan altyd om die braaivuur sal sê. Hierdie gaan oor ‘n virus. Nie die virus van hebsug, misdaad, korrupsie of rassisme nie, maar die griepvirus. (Snaaks hoe gewoond ons al geraak het aan onreg in hierdie land. Amper asof ons al immuun is daarteen. Amper.)
Ja, so daar staan ek toe in die winkel, koerant in die mandjie, en staar na die medisynerak. Ek het ‘n diepgewortelde, onlusbare smag na vitamien C.
Daardie letter word my muse, my redder, my boerpot. Ek prop die mandjie vol produkte wat ‘n beter lewe belowe. Produkte wat sal ‘deliver’. Daardie goue woord in die politiek en oranje woord in my gesondheidstoestand.
Ek haas huis toe om hierdie medikasie in te neem. Hulle gaan my gesond maak – my laat voel soos in die ou dae to ek nog gemaklik kon rondbeweeg en my keel kon gebruik. Soos een of ander ‘Kind van die Toekoms’ gee hierdie produkte my hoop.
Ek wil vir hulle ‘n serenade sing. Sommer Foreigner se “I wanna know what love is” uit volle bors terwyl ek my heupe swaai.
Vinnig sluk ek ‘n hand vol pille en tablette af, val op my bed neer en slaan die koerant oop.
Maar nog voor ek die derde politieke skandaal haal, tref die medisyne my soos ‘n (sous)trein. En ek droom van die ou dae, toe ons nog snags buite kon rondloop en padtekens met akkers gooi.
- Peet van Aardt is die hoof van digitale inhoud vir Media24 se reis- en motortydskrifte. Volg hom hier op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Peet
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.