Liefde in ‘n paar Hi-Tec's
2011-05-16 07:40
Liefde.
Daar is min mense wat met outoriteit daaroor kan skryf.
Dat dit groot is; en onvoorspelbaar... dat dit soms gevaarlik en roekeloos kan wees, wéét ek egter.
Dat dit deur ons Skepper op aarde geplaas is om balans te bring vir al die pyn en lyding wat met menswees gepaard gaan, glo ek.
Dit is oral om ons.
Daar sit ek onlangs voor ‘n hut tussen Machadodorp en Badplaas, gewikkel in ‘n gesprek met ‘n vreemdeling. Dit was die derde oggend van ‘n vyfdag-staproete – ‘n geleentheid wat ek dadelik aangegryp het om vir Weg ‘n storie daaroor te skryf.
Met blikbekers vol boeretroos in die hande en ‘n sakkie beskuit tussen ons, bekyk ek en my mede-stapper die uitsig wat strek tot by die Komatievallei.
Twee vreemdelinge, met nie veel meer in gemeen as hul velkleur, taal en stapskoene nie. Albei mans by kruispaaie in hul lewe: Hy wat een van die dae ‘n pa gaan word... ek wat nog herstel aan liefde-babelas.
Vir ons albei het hierdie staptog oor soveel meer gegaan as net ‘n belewenis in- en ‘n ervaring van een van ons land se mooiste streke.
My mede-stapper is in ‘n innerlike stryd gewikkel, want hy en sy vrou wil waai Australië toe. Maar dis ‘n moeilike besluit. Wat van hul vriende en familie?
Ek, met my totale afkeur in die emmigrasie-generasie, probeer die man oortuig om te bly. Suid-Afrikaners is die lekkerste mense op aarde.
Ons is effe deurmekaar en ons land beleef ‘n identiteitskrisis, maar ons is sout van die aarde. En jy gaan sukkel om beter natuurlewe te kry as in SA.
Ja, dinge gaan swaarder vir sekere van ons onder die nuwe bedeling. Jy sal onnosel moet wees om te sê alles is pluis.
Ons praat oor die witmens se plek in Suid-Afrika, en kom tot die slotsom dat dit maar soos in die res van Afrika is: ons word beskou as besoekers.
‘Gaste’ ten beste. En as ons hier wil bly, gaan ons met die ‘ware’ inwoners se reëls moet saamleef.
As die man dít dan verstaan, en dus vrede maak daarmee, waarom wil hy en sy gesin waai?
Hy verduidelik daardie ding wat net deur ouers of ouers in wording, verstaan: Dit gaan om die kind. Oor die kind se veiligheid en die kind se geleenthede vorentoe.
‘Ek is so lief vir hierdie land. Ek is hier gebore en ek het hier grootgeword. Ek het hier leer kleilat speel en op Voortrekkerkampe gegaan. Omtrent al ons geliefdes is hier. Maar dis ‘n ander plek as toe ek ‘n kind was. En ons soek ‘n plek waar ons kind eendag gaan welkom wees en tuis voel.’
En hoewel ek nie daarmee saamstem nie, raak iets in die man se woorde my. Hy en sy vrou het hul ongebore kind reeds so lief dat hulle bereid is om hulle lewens hier sal prysgee vir die kleinding.
Sy vrou kom uit die hut en por ons aan om klaar te maak. Die dag se stap lê voor. Dan bied hy vir my die laaste stukkie beskuit, gooi sy laaste slukkie koffie op die gras uit. By die hut se ingang soen hy sy vrou, en plaas sy hand op haar maag.
Liefde, in ‘n paar Hi-Tec’s.
- Peet van Aardt is die hoof van digitale inhoud vir Media24 se reis- en motortydskrifte. Volg hom hier op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Peet
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.