Als wel in liefde en krieket
2011-03-28 07:43
Hoe kry jy iemand om jou vergiffenis te skenk?
Dit is my vriend se vraag.
Dis Vrydagaand en ons soek antwoorde onder in ons Jack Daniel’s glase.
Twee mans met gebroke harte: myne omdat die Proteas sopas pateties hulself uit die Wêreldbekertoernooi gespeel het, en my vriend omdat die verhouding met sy nooi verby is.
Daar is genoeg vrae om onsself van nou tot 5 April vir elke sekonde van die dag besig te hou, maar op die ou end is daar slegs daardie bogenoemde vraag.
My vriend sanik oor sy onnosele besluit om sy geliefde te los (vir redes wat niemand weet nie, minste van almal hyself) en hy wonder hoe hy kan gaan smeek om vergiffenis.
En ek dink: dis seker hoe Graeme Smith en sy manne nou moet voel. Jy kan nie bloot vir ‘n nasie ‘jammer’ sê nie. Op die krieketveld word daar al vir ons jammer gesê sedert 1992.
En wat my vriend betref; hy het al sy fout aan sy oogappel gaan bely. Twee keer. Nou luister hy sy aande om aan die CD’s wat sy vir hom gemaak het en is hy maar ‘n skadu van die man wat ek twee maande gelede geken het.
As die middelpen kantel, dan lê hy.
Ja, ek voel sleg vir die arme Proteas. Sonder twyfel weet hulle presies hoe hul elkeen van ons toeskouers in die steek gelaat het, en niks wat hulle nou kan sê of doen gaan die teleurstelling wegvat nie. Daardie swaar, verstikkende teleurstelling.
My vriend slaan oor na die pseudo-filosofiese redenasie van ‘n spyt man: As ‘n mens net kon teruggaan in tyd... As hy maar net kon terugkeer na dáárdie aand. Dan sou hy vir Boklam in sy arms vat en in haar oor fluister hy het haar meer lief as vir die volmaan; dat sy die Sachin Tendulkar is vir sy hart se Indië.
‘n Gebroke hart vertel mos ‘n hele verhaal.
Ek lig my wenkbroue en knik simpatiek.
As ons spelers maar kon teruggaan in tyd! As Jacques nie op so ‘n skouspelagtige manier sy vyftigtal probeer bekom het nie. As AB nie daardie lopie probeer hardloop het nie, en as ons dalk nie so hard geskree “Vat hom, Faffie!” nie.
Maar as is verbrande wilgerhout...
Geen meer Tahir-plesier vir SA, geen meer koperkrulhare vir my vriend. Amla se kolf is weggepak, en so ook my maat se kiekies van prettige pieknieks.
Ons krieketliefhebbers moet nou vier jaar wag. Wéér. Maar dit beteken nie my maat moet sy hart vir vier jaar begrawe nie.
Dalk is dit die vooruitsig van die rugby-wêreldbeker en ons Bokke se kans om ons naam doer onder te herstel wat my skielik moed gee. Ek bestel vir ons elkeen ‘n Springbokkie, klop my vriend op sy skouer en sê vir hom komaan man, lig jou kop.
Daar is baie kolfblaaie daar buite, en tien-teen-een nog beteres ook!
Hy kyk vir my en sluk die groen-en-room drankie af.
Dan antwoord hy: “Ek dink nie so nie, ou maat.
“Want ek het op Lord’s gekolf.”
En dit is hier waar ek om vergiffenis smeek.
- Peet van Aardt is die hoof van digitale inhoud vir Media24 se reis- en motortydskrifte. Volg hom hier op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Peet
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.