Toer is bepalende faktor vir Stormers
2011-05-10 07:30
Die toer van Nieu-Seeland en Australië sal bepaal of die Stormers wel sal meeding vir ‘n plek in die Superrugby eindstryd.
Hulle is tans in Auckland waar hulle voorberei vir die kragmeting teen die Chiefs, wat Saterdagoggend in Hamilton gespeel gaan word. Hulle het Nieu-Seeland toe gevlieg na ‘n teleurstellende 20 – 14 nederlaag teen die Crusaders.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, om met ses punte teen die Crusaders te verloor is geen skande nie maar dis teleurstellend as ‘n mens na die name kyk wie nie gespeel het nie. Die Crusaders moes die Stormers sonder top-losskakel Dan Carter pak en het boonop drie dae voor die wedstryd hul kaptein Richie McCaw weens harsingskudding verloor.
Gedurende die eerste helfte van die naweek se wedstryd het hulle ook spelers soos Israel Dagg en Sean Maitland verloor, maar het steeds genoeg diepte gehad om met die Stormers af te reken.
Die Stormers het self na die wedstryd gebieg dat hulle nie skerp op die aanval was nie en dat ‘n hele paar gulde geleenthede deur hul vingers geglip het. Maar hulle hoef nie in sak en as te wees nie. Die Stormers is goeie toeriste en daar is ‘n paar wedstryde op toer wat hulle kan teiken.
Saterdag se wedstryd teen die Chiefs is een van hulle. Verlede jaar het die Stormers die Chiefs 49 – 15 in Hamilton pakgegee en soos dinge nou lyk, is daar ‘n groot moontlikheid dat die Chiefs weer Saterdag die onderspit gaan delf.
Die wedstryd teen die Blues is seker die moeilikste op toer. Hulle’s die bestendigste span in die kompetisie op die oomblik en het slegs een keer verloor. Hulle sal nie op hulle tuisgrond maklik wees om te klop nie, maar die Stormers het ook al van tevore in Auckland gewen so dit sal hulle selfvertroue gee.
Die Rebels sukkel in hul eerste jaar en die Stormers sal waarskynlik in Melbourne ‘n wen kan optel. Dieselfde met die Brumbies. Die gesukkelry van die veld af het ‘n uitwerking op die veld en die Brumbies lyk nie na ‘n span wie vir mekaar speel nie. Die Stormers het daar ook ‘n groot kans om te wen maar hulle sal goed moet speel want dit sal die laaste wedstryd op toer wees, en die laaste wedstryd is altyd die moeilikste.
En al wen hulle net een of twee wedstryde op toer, is daar ‘n groot kans dat hulle steeds in die top 4 kan eindig want die Blues, Reds en Crusaders moet nog teen mekaar speel so dit sal sake so effe meer gelyk maak.
Die Stormers is ‘n top span en kan met goeie voorbereiding en selfvertroue die uitspeelrondtes haal.
– Morné Esben is die sportaanbieder vir K-FM, Higveld Stereo, 702 Talk Radio en CapeTalk 567. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.