Stormers met rug teen die muur
2011-05-17 07:52
Ek moet bieg, ek was nogal stomgeslaan oor die Stormers se nederlaag Saterdag teen die Chiefs in Hamilton.
Nie omdat hulle ‘n voorsprong van 20-3 verbrou en uiteindelik 30-23 verloor het nie, maar oor hoe hulle in die tweede helfte van die wedstryd begin speel het.
In die eerste helfte het hulle soos ‘n kampioenspan gespeel, met spelers soos Gio Aplon wat met sprankelende lopies vorendag gekom het. Daar was in die eerste 40 minute net een span op die veld en dit was die Stormers. Dit het gelyk asof daar weer ‘n groot telling teen die Chiefs in Hamilton sou wees, maar nes uit ‘n gru-verhaal het alles lelik vir die Kapenaars begin skeefloop.
Aplon se geel kaart vroeg in die tweede helfte – wat volgens my heeltemal onnodig en onregverdig was -- word deur kenners as die keurpunt in die wedstryd beskou, maar ek dink die skrif was reeds voor dit aan die muur.
Die onnodige wegskop van balbesit, hanteerfoute wat ‘n o.13 speler homself oor sou skaam het sowel as omgekeerde besit by die afbreekpunte is maar net ‘n paar dinge wat die Stormers Saterdag gekniehalter het.
In my gesprek met Allister Coetzee vanuit Nieu-Seeland het hy self kopgekrap oor hoe hulle nie daardie wedstryd gewen het nie. Alles het volgens hom in die eerste helfte soos beplan was geloop.
Hy’t gesê hul skopwerk in die tweede helfte was glad nie goed nie en dat hulle daardeur aan die Chiefs balbesit geskenk het, wat hulle dan goed gebruik het om fases bymekaar te sit en dan punte van die Stormers se foute aan te teken.
Hy’t ook gesê dat hulle amper twee keer meer duikslae as die Chiefs moet uitvoer, wat rêrig die spelers uitgeput het. Hulle was so pootuit dat wanneer hulle wel die bal gehad het, hulle te moeg was om ‘n merkwaardige aanval te doen.
Die wedstryd teen die Chiefs is een wat hulle graag sou wou wen, en die nederlaag maak dinge nou baie moeilik vir hulle want die Blues (die Stormers se volgende opponent) is tans die sterkste span in Nieu-Seeland.
‘n Nederlaag in Auckland en oorwinnings vir die Reds, Crusaders en die Sharks sal beteken dat die Stormers op die algehele punteleer grond verloor.
Die Cheetahs het oor die naweek vir die Stormers ‘n groot guns gedoen deur die Crusaders te klop, terwyl die Reds punte van die Blues af gesteel het, maar hulle kan nie verwag dat dieselfde gunsies in die toekoms vir hulle gedoen sal word nie.
Soos ek in my vorige rubriek gesê het, die Stormers het reeds in Auckland die Blues geklop toe hulle met die rug teen die muur was, maar ‘n mens wonder nogal hoeveel van ‘n impak Saterdag se nederlaag op hulle selfvertroue en gestel sal hê.
– Morné Esben is die sportaanbieder vir K-FM, Higveld Stereo, 702 Talk Radio en CapeTalk 567. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.