Sterkte Gary, jy gaan dit nodig hê
2011-06-08 07:54
Dit was nie heeltemal verbasend om te hoor dat Gary Kirsten as die nuwe Proteas-afrigter aangestel is nie. Dit was ‘n geheim wat nie baie goed bewaar was nie.
Ek dink hy’s sonder twyfel die beste kandidaat om Suid-Afrika vorentoe te neem en ek dink sy ervaring met die Indiese span sou hom soveel meer selfvertroue en insig gegee het en hy sal weet hoe om die individue in die span te hanteer.
Dit sal egter interessant wees om te sien hoe Kirsten en Graeme Smith oor die weg gaan kom. Smith het baie mag onder Mickey Arthur en Corrie van Zyl gehad en kon – met sy sterk persoonlikheid – baie dinge regkry. Kirsten kom voor as ‘n stil maar gesaghebbende mens wat nie sommer oor hom sal laat loop nie.
Ek voorspel ‘n paar twiste tussen die twee en met groot reekse teen Australië en Sri Lanka aan die kom, kan dit gouer liewer as later gebeur.
Iets waarvan ek gehou het toe Kirsten die media vir die eerste keer aangespreek het, was toe hy gesê het daar moet ‘n groter leierskapskorps wees, pleks van net die afrigter en kaptein en dit verwys reeds na die feit dat Smith se mag effe gekap gaan word.
Dieselfde geld natuurlik vir AB de Villiers, wat die Proteas in eendag- en T20-wedstryde sal lei.
Kirsten se groot motivering sal wees om die eerste afrigter te wees wie die Proteas na wêreldbeker glorie lei, maar met ‘n twee-jaar kontrak is dit nie ‘n uitgemaakte saak dat hy die span in 2015 sal brei nie.
Kirsten sal hare op sy tande moet hê want daar sal inmenging van sy base wees oor sy spankeuses, kwotas ensovoorts, en hy sal sterk genoeg moet wees om die span te kies wat hy dink die betrokke wedstryd of reeks kan wen.
Mickey Arthur het voet by stuk gehou dat hy sy spanne op meriete gekies het en dit was een van die hoofredes hoekom hy gevra is om sy pos te verlaat. As Kirsten onder daardie tipe druk begin buig, gaan dit sleg wees vir die volgende ou wat by hom sal oorneem.
Kirsten se groot taak is nou om ‘n groep spelers bymekaar te kry en voor te berei vir Oktober se tuisreeks teen Australië. Ek dink vier maande is net nie genoeg tyd vir Kirsten om sy stempel op die span af te druk nie, so die beste sal wees om die eendag-groep en die toets-groep so konstant as moontlik te hou vir die reekse teen Australië en Sri Lanka. Hy kan daarna met nuwe spelers en idees begin eksperimenteer.
Sterkte Gary, jy gaan dit nodig hê.
– Morné Esben is die sportaanbieder vir K-FM, Higveld Stereo, 702 Talk Radio en CapeTalk 567. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.