Spankeuses kwel, maar Bokke bly gunsteling
2012-11-09 08:16
Nou ja, ek twyfel of daar ooit 'n tyd sal wees wat ek heeltemal met Heyneke Meyer se Springbok-spankeuses saamstem.
Terwyl sy jongste span vir die eerste Europese toets teen Ierland baie bestendig is, is daar steeds vir my 'n paar spankeuses wat nie heeltemal sin maak nie.
Eerstens, Zane Kirchner op heelagter. Dis duidelik dat hy verbeeldingloos en een-dimensioneel is en nie juis 'n groot bedreiging op die aanval is nie, maar hy word steeds toets na toets gekies.
Miskien is dit maar net die soort heelagter wat Heyneke soek.
Jaco Taute is weer op nr 13 vir Saterdag se toets ingesluit, wat beteken daar is geen plek vir die spesialis-buitesenter Juan de Jongh nie.
Vir my sou daar 'n baie beter balans gewees het as Taute op heelagter gekies is, met de Jongh op buitesenter.
Daar is diegene wat sê dat die sprong van Curriebeker na internasionale rugby vir de Jongh miskien te groot sal wees. My antwoord daarop is dat de Jongh nie 'n nuweling in Bokrugby is nie. Hy't reeds meer as 10 toetse agter sy naam en verdien beslis sy plek in die beginspan. Ek kan nie onthou dat hy ooit die Bokke in die steek gelaat het nie.
So met meer as 10 toetse agter sy naam, is die sprong te groot vir de Jongh, maar Taute, wat slegs twee of drie toetse gespeel het, is gesout genoeg om buite posisie op die hoogste vlak te speel? Ek weet nie so mooi nie.
Op 'n positiewe noot het Heyneke 'n positiewe verandering op losskakel gemaak. Pat Lambie kry uiteindelik sy kans om te bewys wat in hom steek ná 'n uitstekende Curriebeker-toernooi. Dis die regte keuse aangesien Morné Steyn nie sy beste seisoen beleef nie.
Ek stel voor dat Heyneke die All Black-afrigter Steve Hansen se voorbeeld volg en spelers alleenlik op vorm moet kies.
So wat kan die Bokke van die Iere verwag? Wel, die voordeel is reeds met die Bokke nadat spelers soos Paul O' Connell, Rob Kearney en Brian O' Driscoll onfiks verklaar is vir die naweek se kragmeting. Die ervaring wat veral O' Connell en O' Driscoll na die span bring, sal beslis gemis word. Die tweestryd tussen die Strauss-neefs – Adriaan vir die Bokke en Richardt vir Ierland – gaan baie interessant wees. Besis iets om 'n oog op te hou.
Ruan Pienaar gaan 'n baie belangrike rol vir die Bokke speel omdat hy die toestande in daardie land sowel as die opposisiespelers baie goed ken.
Maar soos alle toetse, gaan alles van die pak voorspelers afhang. As hulle die koue, nat weerstoende kan deurstaan en die Iere oorheers, sal die agterlyn met spelers soos Lambie en Pietersen baie gevaarlik op die aanval wees.
Ek verwag dat die Bokke met tussen 7 en 15 punte sal wen.
– Morné Esben is ’n nuusleser vir 94.5 Kfm. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.