Só kan Bokke die All Blacks troef
2010-08-17 07:58
Die Springbokke sal Saterdag moet uithaal en wys teen die All Blacks as hulle die Suid-Afrikaanse rugbypubliek aan hulle kant wil hou.
Daar’s gemengde gevoelens oor die Bokke se kanse in volgende jaar se Wêreldbeker na hulle swaar nederlae teen die All Blacks en die Wallabies in die eerste helfte van die Drienasies-reeks. En alhoewel daar nog meer as ‘n jaar oor is voor die Wêreldbeker in Kiwiland afskop, kan ‘n mens nie help om te wonder of dit binne die Springbokke se vermoë is om hulle titel te verdedig nie.
Terug na Saterdag.
Die Springbokke is beslis rug teen die muur en is definitief nie die gunsteling nie, maar hier’s ‘n paar redes hoekom hulle Saterdag met die louere sal wegstap:
1. Die Soweto-faktor: In die laaste drie of vier maande het Soweto ietwat van ‘n gelukbringertjie vir Suid-Afrikaanse rugby geword. Die Super14-halfeindstryd en -eindstryd het ‘n nuwe blad by die Suid-Afrikaanse rekord-boeke gevoeg toe swart en wit verenig is. Ook Soccer City (of die FNB Stadion soos dit nou bekend staan) het ‘n spesiale vibe ná die wêreldbeker en Bafana Bafana se onlangse oorwinning daar teen Ghana – so laat ons hoop dit steek ons land se rugbyspelers ook aan.
2. Francois Hougaard en Gio Aplon: Oor die afgelope drie weke het baie kenners gepleit dat jong spelers kans moet kry om ‘n bietjie vonk te verskaf. Die Bokke het moeg en plat op hulle voete gelyk oorsee; maar met ‘n bietjie jong bloed kan dit ook dalk net die senior spelers aanmoedig om bietjie beter te doen.
3. John Smit se 100ste toets: Ons kan maar wat van ou Smittie sê, maar een ding is seker: hy’s ‘n blerrie goeie leier! Sy vorm is nie die beste die jaar nie en daar is groot bedenkinge oor of hy goed genoeg sal wees in volgende jaar se Wêreldbeker, maar hy inspireer sy spelers en hulle sal hulle harte uitspeel vir hom.
4. 90 000 rasende Suid-Afrikaners: ‘n Volgepakte Loftus of Ellis Park is reeds intimiderend vir toerende spanne, maar wat nog van meer as 90 000 toeskouers wat telkens die opposisie uitjou?
5. Nasionale trots: Dis eenvoudig ‘n toets wat die Bokke moet wen. Soos ek vroeër gesê het, dis vir hulle belangrik om Suid-Afrikaners weer aan hul kant te kry voor die Wêreldbeker.
Daar is natuurlik nog baie ander tegniese redes hoekom die Bokke die oorhand teen die All Blacks kan kry, maar ek glo dat, met drie weke se rus, die ywer om weer bo in internasionale rugby te wees en passievolle ondersteuners, is die kanse groot dat die Springbokke die All Blacks in Johannesburg kan troef.
– Morné Esben is die sportaanbieder vir K-FM, Higveld Stereo, 702 Talk Radio en CapeTalk 567. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.