Proteas se middel-orde pla
2011-01-18 07:40
Kepler Wessels het tydens die tweede eendag-wedstryd tussen die Proteas en Indië ‘n goeie punt gemaak toe hy gesê het (nog voor die wedstryd verloor was) dat Suid-Afrika se middelorde hulle in die steek kan laat in die krieket-wêreldbeker.
In Saterdag se wedstryd het die plekke van veral Colin Ingram en David Miller in die kollig gekom. Twee talentvolle spelers wat nog groot vir Suid-Afrika sal wees, maar ongelukkig het hulle gebrek aan ervaring lelik na vore gekom.
Die twee slaan al die houe in die boek maar soms lyk dit asof die oomblik vir hulle te groot word – en tydens die wêreldbeker gaan daar baie groot oomblike wees.
Persoonlik dink ek nie Ingram en Miller is reg vir wêreldbeker-uitspeelwedstryde nie. Miller het in sy eerste 12 eendag-wedstryde ‘n gemiddelde van 26 lopies per beurt aangeteken en alhoewel dit nie iets besonders is nie, is hy beslis vir groter dinge bestem. Ongelukkig, is hy nog nie volwasse genoeg vir groot wêreldbekerwedstryde nie.
So wie moet daar wees?
Wel, Jacques Kallis se terugkeer gaan baie probleme oplos. Hy sal sy plek op nommer drie inneem in plek van Ingram en is ook ‘n ekstra boul-opsie. Ek dink Albie Morkel is steeds goed en ervare genoeg om vir Suid-Afrika te speel en ek sal hom nog ‘n kans gee. Sy rekord is vanselfsprekend en hy’t reeds bewys dat hy ‘n wedstryd-wenner is. Maar hy moet net as ‘n kolwer gekies word.
Mark Boucher is ook ‘n opsie alhoewel dit nie die keurders goed sal lyk nie. Hulle het immers volgehou dat AB de Villiers die wêreldbeker-paaltjiewagter gaan wees, en om Boucher as net ‘n kolwer te speel sal eienaardig wees.
Soos dinge nou staan sal Graeme Smith en Hashim Amla die beurt vir die Proteas open met Kallis op nommer drie. AB de Villiers en JP Duminy is vier en vyf met óf Ingram óf Miller op nommer ses. Albie Morkel sal my nommer sewe wees met Johan Botha, Dale Steyn, Morne Morkel en Lonwabo Tsotsobe die boulers.
‘n Speler soos Faf du Plessis kan ook ‘n moontlike oplossing in die middelorde wees en hy’s ook redelik goed met bal in die hand. Sy draaiballe kan baie effektief in Indiese toestande wees. Dis uiters belangrik dat hy en Imran Tahir in die laaste drie eendagwedstryde teen Indië speelkans kry om te sien of hulle die mas kan opkom in internasionale krieket.
Hoe dit ookal sy, die keurders sal moet kopkrap oor die beste kombinasie vir ‘n moontlike wêreldbeker uitspeel-wedstryd.
– Morne Esben is die sportaanbieder vir K-FM, Higveld Stereo, 702 Talk Radio en CapeTalk 567. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.