Proteas kán momentum behou
2012-12-07 07:00
Ai, dis darem lekker om 'n Suid-Afrikaanse krieketondersteuner te wees.
Die Proteas het vanjaar reeds vir Engeland en Australië op hul tuisvelde pak gegee om as die wêreld se top-toetskrieketspan bekroon te word. Persoonlik dra dit veel meer gewig as enige T20- of eendagwêreldbeker-toernooi.
Die volgende uitdaging vir Gary Kirsten se Proteas is die tuisreeks teen die Nieu-Seelandse Swart Pette. Ons (Suid-Afrika) het vanjaar selfs vir hulle op hul tuisveld 'n ding of twee gewys.
Wie kan ooit daardie pragbeurt van Richard Levi in een van die T20-kragmetings vergeet?
Die Kiwi's behoort nie te veel van 'n uitdaging te wees nie, veral nie met die nuus dat sy hoofdraaier, Daniel Vettori, weens 'n besering nie die toer sal kan aandurf nie.
Dis beslis 'n groot slag vir die besoekers omdat hy dikwels die span se inspirasie is wanneer hulle rug teen die muur is... en ek voorspel dit sal baie tydens hulle toer gebeur.
Daar was ook heelwat omstredenheid rondom kaptein Ross Taylor en sy oënskynlike vete met die afrigter Mike Hesson. Taylor is intussen afgedank as kaptein en is deur Brendon McCullum vervang.
Vir Suid-Afrika is die taak eenvoudig – behou die wen-momentum en moenie die Kiwi's onderskat nie.
Die toetsspan behoort min of meer dieselfde te bly as die wat in die derde toets teen Australië diens gedoen het, alhoewel ek graag wil sien dat Imran Tahir weer 'n kans kry. Dis waar dat hy nie 'n besonderse toetsloopbaan tot nou toe gehad het nie, maar ek glo tog dat hy die soort draaibouler is wat die span nodig het.
Tahir sal sonder twyfel baie baat vind by blaaie in lande soos Indië, Sri Lanka en Bangladesj, maar ek voel 'n mens moet hom teen Nieu-Seeland net die geleentheid gee om aan sy boulwerk te skaaf en om meer afwisseling te ontwikkel. Ek glo met 'n bietjie meer afwisseling sal Tahir uiteindelik die speler word wat ons almal wil hê hy moet wees.
Hy sal dit egter vinnig moet doen, want tyd is nie juis aan sy kant nie.
– Morné Esben is ’n nuusleser vir 94.5 Kfm. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.