Proteas die beste ooit?
2013-02-08 07:53
Dale Steyn het die week sy beste toets-boulvertoning gelewer toe hy 11 paaltjies in die eerste toets teen Pakistan geneem het, en terwyl die kommentators en ontleders nie genoeg lof vir Graeme Smith en sy span kon hê nie, het ek gewonder of die huidige toetsspan die beste is wat die land ooit gehad het.
Hierdie span is sonder twyfel iets spesiaals. Wanneer die kolfwerk nie so waffers was nie, kon die span oor die afgelope 18 maande altyd op die boulaanval staat maak. Steyn is reeds sedert 2009 die wêreld se beste toetsbouler, maar nou, met spelers soos Vernon Philander en Morné Morkel, is dit moeilik om 'n beter boulaanval in wêreldkrieket te vind.
Daar was wel al dae wanneer die Proteas se boulaanval 'n bietjie sy angel verloor het, maar dan het kolwers soos Alviro Petersen, Graeme Smith, Jacques Kallis en Hashim Amla skouer aan die wiel gesit en Suid-Afrika uit die moeilikheid gekolf.
JP Duminy se pragbeurt teen Australië in Perth 'n paar jaar gelede sal altyd vir my uitstaan en is waarskynlik waar alles vir hierdie span bymekaar gekom het.
Deesdae is daar weinig 'n toets waar beide die Proteas se kolf- en boulpogings misluk.
Ek kyk terug na die Suid-Afrikaanse toetsspan van die middel 1990's onder leiding van Kepler Wessels. Daai span het legendariese spelers soos die wyle Hansie Cronje, Darryl Cullinan, Jonty Rhodes, Brian McMillan, Fanie de Villiers en Allan Donald ingesluit en hulle was beslis 'n gedugte span, maar ek dink daardie span sou behoorlik klippe kou teen Smith en kie.
Hier's die feite: sedert 2008 het die Proteas twee keer wegtoetsreekse teen Engeland en Australië gewen. Hulle het ook twee keer in toetsreekse in Indië gelykop gespeel. Hulle word ook deur die mees ervare toetskaptein in wêreldkrieket, Graeme Smith, gelei. Smith het verlede week die eerste speler geword wat 100 toetse gelei het.
Ek het ook hierdie vraag op my Facebook-blad gestel en Asanda Fonqo sê die huidige Proteasspan is sonder twyfel die mees gebalanseerde span sedert 1992, maar hy wil graag die ontwikkeling van 'n paar goeie draaiboulers sien wat die toestande in plekke soos Indië kan uitbuit.
David Brooke sê op sy beurt dat Amla en Philander die finale stukke van die legkaart was. Hy voel hulle het 'n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die Proteasspan as die beste wat die land ooit gehad het.
Ja, die Proteas moet hul tyd bo aan die wêreld se krieketranglyste geniet, want wanneer spelers soos Kallis, Smith en Petersen uittree, sal die span weer moet herbou. 'n Mens hoef net na Australië te kyk om te sien hoe moeilik dit is.
– Morné Esben is ’n nuusleser vir 94.5 Kfm. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.