PE het binnebaan vir Sewes
2011-04-12 07:04
Ons vind later vandeesweek uit wie die nuwe gasheer van die Suid-Afrikaanse been van die wêreldsewestoernooi sal wees.
Kaapstad, Port Elizabeth en Rustenburg is die drie voorlopers om die toernooi by George oor te neem. Met die sukses en toenemende gewildheid van Sewesrugby, het Outeniqua Park eenvoudig net te klein geword en het dus gesukkel om die mas op te kom.
Al drie stede sal ‘n goeie opvolger wees maar wie se bod gaan die beste wees?
Die Kaapstadse publiek is sonder twyfel die beste ondersteuners van sport in die land. Super Rugby-kragmetings, krieketwedstryde, sokkerwedstryde selfs klubrugby word baie goed ondersteun en met die tipiese warm weerstoestande in Desember en met die aantal toeriste wat die stad lok, sal organiseerders nie te hard hoef te werk om ‘n karnaval-atmosfeer te laat heers nie.
Dit sal ook ‘n lewensredder wees vir die Kaapstad-stadion wat die laaste keer in Februarie vir U2 se konsert gebruik is. As die stad weer dieselfde gees van verlede jaar se sokker-wêreldbeker kan hervestig deur die “fan-walk” te heropen sowel as kos-stalletjies en vermaak daar langs te sit, sal dit ‘n groot sukses wees. En vir die wat nie heeldag by die rugby wil sit nie, is Seepunt-strand en die Waterfront nie ver weg nie.
So dit maak hope sin om die Sewes Kaap toe te bring.
Port Elizabeth maak ook heelwat geraas oor hoekom hulle die Sewes-ternooi moet kry. Die bestaan van die Southern Kings tel natuurlik grootliks in hul guns sowel as die briljante Nelson Mandelabaai-stadion. Daar’s duidelik ‘n hongerte vir rugby in die Oos-Kaap en die ondersteuning daar is ook verblywend om te sien.
Deel van hulle bod is die feit dat hulle dit ‘n vier-dag lange fees wil maak met konserte en vermaak voor, tydens en ná die toernooi. Hulle het glo ook ‘n veel groter bod as die ander twee stede ingehandig wat in hulle guns sal tel.
‘n Mens weet nogal nie rêrig baie oor Rustenburg se bod en hoe hulle beoog om Kaapstad en PE te troef nie. Anders as die feit dat Rustenburg ook ‘n baie goeie stadion – die Royal Bafokeng Sports Palace – het, weet ‘n mens nie hoe hulle beplan om die mense te vermaak nie, anders as die rugby natuurlik. Miskien is dit hulle hele plan. Hou dit eenvoudig en maak seker dat dit puik vanuit ‘n rugby oogpunt is.
Ek sal graag wil sien dat die Sewes Kaap toe kom, sodat die Kaapstad-stadion ten minste gebruik kan word en nie ‘n wit olifant word nie. Ek glo ook die toernooi sal dieselfde tipe ondersteuning geniet in Doebai en HongKong. Maar ek dink Port Elizabeth gaan dit kry. Ek kry net so ‘n gevoel dat met die groot ondersteuning van die regering sowel as die mense van die Oos-Kaap se hongerte vir rugby, dat hulle waarskynlik die binnebaan het.
– Morné Esben is die sportaanbieder vir K-FM, Higveld Stereo, 702 Talk Radio en CapeTalk 567. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.