Kyk uit vir dié atlete
2012-08-24 07:15
Suid-Afrika se Paralimpiese atlete is in Londen vir die Paralimpiese Spele wat volgende week begin en hulle het ‘n doelwit om 40 medaljes by die Spele in te palm.
Dis beslis haalbaar omdat Suid-Afrika vier jaar gelede in Beijing 30 medaljes verower het.
Suid-Afrika se 62 atlete gaan probeer om medaljes in onder meer swem, fietsry en rolstoeltennis te wen en bykans die helfte van die span neem in hul eerste Spele deel. Maar wie is Suid-Afrika se grootste hoop om ‘n paar medaljes te wen?
Oscar Pistorius is natuurlik die “kaptein” van die span en die een na wie die land sal kyk om goud te verower. Die “Blade Runner” het in Beijing die gesogte driekuns behaal nadat hy goud in die 100-, 200- en 400 m-naelloop gewen het. Hy’t ook wêreld-rekordtye in die 200- en 400 m-naelloop gehardloop.
Natalie du Toit sal sonder twyfel weer in die swembad uitblink. Sy het immers vyf goue medaljes vir Suid-Afrika in 2008 verwoer.
Die verdedigende handfiets-wêreldkampioen, Ernst van Dyk, sal moeilik wees om in die marathon te klop. In Beijing het hy goud gewen en het ook ‘n brons medalje in die rolstoel-marathon ingepalm. Die Spele in Londen is van Dyk se sesde Paralimpiese Spele.
Ander name om voor uit te kyk is Hilton Langenhoven, Ilse Hayes, Arno Fourie, Zanele Situ en Tadhg Slattery.
Ná die opwinding van die Olimpiese Spele en die sukses wat Suid-Afrika daar behaal het, is die Paralimpiese span daarvan oortuig dat hulle ook vanjaar hul beste vertoning ooit by die Spele sal lewer.
Ons hou duim vas vir julle!
* Kyk hier hoe Oscar in 2008 goud in die 100 m gewen het.
– Morné Esben is ’n nuusleser vir 94.5 Kfm. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.