Kings-debakel al hoe meer belaglik
2012-10-05 09:38
Die Kings het die week 'n nuwe laagtepunt bereik.
Dis geen geheim dat die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) alles in die stryd werp om die Kings se oorgang na Superrugby so gemaklik as moontlik te maak nie, al beteken dit die toermooi se reëls moet verander om hulle tegemoet te kom.
Die Oos-Kaapse streekspan het onlangs vir Saru gevra om hulle toe te laat om ses buitelandse spelers in hul groep te kies, pleks van die twee wat tans die perk is. Die Kings se standpunt is dat hulle so sterk as moontlik wil wees om 'n promosie-/ relegasie-wedstryd aan die einde van die toernooi te vermy.
Maar dis nie wat dié week my aandag getrek het nie.
Vroeër die week het die Kings se president, Cheeky Watson, aangekondig dat die Argentynse skrumskakel Nicolas Vergallo, die Blues se Hadleigh Parkes sowel as die Leeus se Bandise Maku hulle by die span sal aansluit vir die Superrugby-seisoen.
Probleem: Vergallo is tot 2014 met die Franse klub Toulouse gekontrakteer en sy agent sê geen ooreenkoms is geteken nie, alhoewel daar belangstelling van die Kings was.
Maku het ook dié week op Twitter gesê dat geen kontrak geteken is nie en dat by "binnekort" bekend sal maak waar hy volgende jaar gaan speel. Daar word egter verneem dat dit slegs 'n kwessie van tyd is voordat hy wel by die Kings sal aansluit.
Dis darem nie als bog nie. Parkes gaan wel volgende jaar vir die Kings speel en na wat berig word is hy nogal opgewonde om by sy nuwe span aan te sluit.
Hoe doen die Kings sake?
Hou hulle mediakonferensies om spelers bekend te stel sonder dat daar pen op papier gesit word? Ek is seker baie van ons wil hê dat die Kings goed doen in Superrugby. Ons wil tog nie hê dat hulle week na week op die veld geslag word nie.
Dit sal eenvoudig Suid-Afrika in 'n swak lig plaas en selfs nog meer negatiewe aandag op die Kings-debakel plaas.
Maar iemand moet asseblief die Kings se topbestuur leer hoe 'n Superrugby-streekspan moet funksioneer. Om spelers bekend te stel voordat hulle enige kontrakte geteken het is nie hoe 'n professionele span te werk gaan nie.
– Morné Esben is ’n nuusleser vir 94.5 Kfm. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.