Kan Meyer se Bokke dié kritiek verwerk?
2012-08-31 07:51
Die Springbokke se gelykopuitslag teen Argentinië in Mendoza verlede week het talle rugbykenners warm onder kraag gelaat – veral Nick Mallett, Naas Botha en Ashwin Willemse.
Mallett het behoorlik sy mond uitgespoel oor die Bokke se vrot vertoning na die uitsending in Supersport se ateljee en hoewel sy uitlatings baie mense verbaas het, het dit terselfdetyd baie sin gemaak. Mallett het veral swaar neergekom op die Bokke se een-dimensionele wedstrydplan en stampkarrugby. Sy gevoel is dat Heyneke Meyer groot, sterk spelers soos Willem Alberts en Jacques Potgieter kies om bo-oor pleks van deur die opposisie te hardloop. Hy't ook gepraat van hoe voorspelbaar die spelers begin word het. Ek stem saam.
As 'n mens mooi na die afgelope vyf Bok toetse kyk, sal 'n mens sien dat spelers soos Alberts, Potgieter en Eben Etzebeth byna nooit die bal by die kontakpunt uitgee nie. Hulle sal liewer teen 'n opponent vashardloop en nog 'n fase opstel. Dieselfde geld vir agterlynspelers soos Frans Steyn. Ons spelers het blykbaar nie die vermoë om 'n aangee – tydens of net voor 'n laagvat uitgevoer word – te voltooi nie. Ons agterlynspelers het ook blykbaar vergeet hoe om te systap.
Nog 'n groot iritasie vir Mallett was die Bokke se skoppe. Te veel keer word goeie balbesit weggeskop en op 'n skinkbord aan die opposisie oorhandig. 'n Mens kon sien die Poemas was daarvoor gereed en het baie sterk teenaanvalle geloods, dikwels met 'n produktiewe uitslag. Ek wil nie vir een sekonde voorstel dat die Bokke taktiese skoppe heeltemal moet uitskakel nie, maar ek sê wel dat daar 'n beter balans tussen aanval en verdediging moet wees. Miskien 50-50.
Mallett het na die gelykoptoets gesê dat die Bokke 'n negatiewe benadering tot rugby het, waar hulle voel hulle speel beter sonder die bal. Hy is nie oortuig dat dit teen beter spanne soos Nieu-Seeland en Australië sal werk nie.
Die Bokke se volgende uitdaging in die Rugbykampioenskap is volgende naweek teen die Wallabies in Perth. Dié Wes-Australiese stad is een wat goeie herineringe vir die Bokke het, so hulle sal bly wees hulle is in 'n stad waar hulle reeds van tevore sukses gesmaak het. Maar die Wallabies is nie 'n slegte span nie, ondanks hul vernederende nederlaag van 22-0 verlede week teen die All Blacks.
So, hoe wen die Bokke dié toets?
Hulle sal hul lynstane en skrums moet wen. Andries Bekker sal gou wees om te erken dat hy nie 'n goeie toets in terme van lynstane beleef het nie. Die afbreekpunte is reeds sedert die reeks teen die Engelse 'n groot kwelpunt vir Heyneke Meyer se Bokke en daardie aspek van hul spel sal drasties moet verbeter. Ek kan nie juis sien dat dit oornag sal gebeur nie.
Morné Steyn moet meer beheer oor die wedstryd neem. Hy moet elke bal wat na die agterlyn toe kom, eerste hanteer. 'n Slot, stut of losvoorspeler as die eerste ontvanger in die agterlyn sal eenvoudig net nie meer deug nie. So gepraat van die agterlyn, hulle is die ouens met die bal-vaardighede en kreatiwiteit so daar moet meer skêrbewegings en fop-aangeë wees. Maar die belangrikste: moet nie so gretig wees om besit weg te skop nie, tensy daar 'n goeie kans is om dit teruggewen.
Die Bokke se selfvertroue is sonder twyfel geskaad, maar hulle behoort sterk genoeg te wees om die kritiek van ouens soos Mallett, Botha en Willemse te kan verwerk en 'n beter vertoning vir hul land te gee.
– Morné Esben is ’n nuusleser vir 94.5 Kfm. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.