Hier is Div se kans
2010-09-21 08:06
‘n Week of twee gelede het ek met groot belangstelling ‘n artikel gelees oor hoe Springbokrugby in ietwat van ‘n losskakel-krisis gedompel is met Butch James se skouer-besering wat eintlik erger is as wat aanvanklik verwag is.
Die artikel gaan voort om te sê dat die Springbok-breier Peter de Villiers heel moontlik met ‘n nuwe speler moet waag om die leemte wat James gelaat het, te vul. Die name van Pat Lambie en Elton Jantjies is genoem en dis iets wat my nogal laat dink het. Miskien sal dit glad nie ‘n slegte idée wees nie en dit sal beslis toelaat dat Morné Steyn ‘n ruskansie kry voor die wêreldbeker.
Elton en Pat beleef tans uitsteekende Curriebekers en op vorm hoort hulle dalk in die Bok-span. Elton het bewys dat hy sy agterlyn goed kan wegstuur en dat hy – nes Jonny Wilkinson wat hy so na-aap – ‘n dodelike skopvoet het. Dieselfde geld vir Pat. Sy aanvallende spel is van die beste in die reeks en die gemak waarmee hy die druk van Super-rugby hanteer het, is wonderlik om te sien.
Daar’s geen twyfel dat hulle vir Springbokrugby uitverkore is nie, maar is nou die regte tyd met ‘n “Grand Slam”-toetsreeks om die draai?
Volgens die Springboklegende Naas Botha, is dit.
Daar’s twee kampe in hierdie debat. Die eerste hou vol dat hulle wel reg is en dat minstens een van hulle die Bokspan behoort te haal terwyl die ander sê dat hulle – veral Elton – miskien ‘n seisoen of twee Superrugby moet speel om te sien of hulle werklik goed genoeg is.
Elton se breier, John Mitchell, glo beslis so.
Daar’s seker meriete in beide argumente maar soos Naas sê, as jy goed genoeg is is jy oud genoeg. En hierdie twee spelers is beslis goed genoeg. My enigste kwelpunt is, as hulle of een van hulle die span haal en ‘n swak reeks beleef, sal dit ‘n groot slag vir hulle selfvertroue wees en soos ons al baie keer gesien het, neem dit ‘n seisoen of twee om daarvan te herstel.
Kom ons wees eerlik, om ‘n toetswedstryd teen Ierland te speel is moeilik genoeg, wat nog by die openingswedstryd van hulle splinternuwe nasionale stadion? Hulle sal wil seker maak hulle begin met ‘n wen. Dieselfde geld vir Engeland op Twickenham of Wallis by die Millenium-stadion.
Naas se argument daarteen is dat as die ondersteuning van binne die span goed is, sal hulle dit kan verwerk.
Hoe dit ookal sy, nie een van daardie spelers sal ‘n Bokspan in die steek laat nie en miskien is dit net die regte geleentheid vir Peter de Villiers om finaal op sy eie voete te staan en een of twee brawe besluite te neem. Daar’s ‘n kans dat dit nie gaan werk nie, maar ten minste het hy iets nuuts probeer wat heel duidelik nie die geval tydens die Drienasie-reeks was nie.
– Morné Esben is die sportaanbieder vir K-FM, Higveld Stereo, 702 Talk Radio en CapeTalk 567. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.