Groot veranderings by Bokke nodig
2010-07-27 08:10
Ek sal bitter graag ‘n vlieg teen die muur wil wees wanneer SARU se topbestuur hierdie week in Kaapstad byeenkom om onder meer die Springbokke se teleurstellende vertonings in Nieu-Seeland en Australië te bespreek.
Dit sal selfs meer interessant word as die Bok-afrigter Peter de Villiers – soos Jake White in 2006 – homself moet verduidelik.
Suid-Afrika het nou drie toetse na mekaar verloor na Saterdag se jongste nederlaag teen die Wallabies in Brisbane, en baie mense vra die vraag: waar het dit als begin skeefloop vir die Bokke?
Eerstens, spankeuses. In my opinie het van die senior spelers in die groep se spelpeil aansienlik gedaal.
Ek dink dis redelik veilig om te sê John Smit se dae in die groen en goud is getel. Hy’s eenvoudig net nie meer goed genoeg nie. Sy lynstaan-gooiwerk is nie op standaard nie en hy laat glip nog altyd te veel duikslae op verdediging. In die vastelos is hy nêrens. Sy leierseienskappe kan nie geïgnoreer word nie, maar bloot as ‘n speler stel hy teleur. Bismarck du Plessis, Adriaan Strauss en Tiaan Liebenberg is almal beter keuses in die nommer twee-trui vir die wêreldbeker.
Victor Matfield begin ook nou te wys dat sy beste dae agter hom is. Hy’s nie meer so klinies in die lynstane nie en sy beheer van afskoppe stel is nie suiwer nie. Nes Smit, is hy nie rêrig ‘n faktor in die vastelos nie. Andries Bekker is loshande die voorloper om sy posisie te vul.
Ek is ook nie heeltemal gelukkig oor Pierre Spies se spelpeil deesdae nie. Hy maak vir my net nie ‘n groot genoeg impak nie. Vir die Bulls in die Super 14 was hy ‘n yster en loshande die beste agsteman in die toernooi, maar in die Bok-trui is hy ‘n ander speler. Ek sal liewer met Ryan Kankowski of ‘n ou soos Duane Vermuelen in die wêreldbeker begin.
Dan is daar Bryan Habana. Soos ek verlede week gesê het: hy’s te gemaklik in sy posisie en as ‘n gevolg is hy nie meer so gemotiveerd soos hy ‘n paar jaar gelede was nie. Gerhard van den Heever sal die ideale opvolger wees.
Die afrigter sal beslis meer braaf moet wees met sy spankeuses en nie net spelers as gevolg van sentimentele waarde kies nie. Spelers moet gekies word op vorm – dis die enigste manier hoe ‘n wêreldbeker gewen gaan word.
Die tweede probleem is, die top-spelers was baie min ruskans gegun nadat hulle verlede jaar die Britse en Ierse Leeus geklop en die Drienasies-reeks beklink het.
Die span se teleurstellende vertonings in die Verenigde Koninkryk het daardie feit onderstreep.
Daar’s ‘n Grand Slam-reeks wat aan die einde van die seisoen voorlê. Dit sal nogal interessant wees om te sien wie Peter de Villiers saam gaan neem.
Dan is daar die tegniese aspekte van die Bok-spel. Waar is die rotsvaste verdediging wat so goed gewerk het? Dis goed en wel om aanvallende rugby te speel maar as die aanval nie werk nie, moet daar meer aandag aan verdediging geskenk word.
Dissipline is nog ‘n groot fout. Dis seker die Bokke se grootste kwelpunt sovêr in die Drienasies-reeks. Daaroor gaan ek nie veel meer sê nie.
Die afbreekpunte is nog ‘n gebied waar die Bokke groot stappe vorentoe moet neem. Dis dalk waar dat die skeidsregters die Bokke se pogings op die grond gekniehalter het, maar hulle moes hul spel by die blaser aanpas, wat hulle ongelukkig nie gedoen het nie. Dis ook belangrik om met ‘n baljagter in die span te speel. Hulle het die afgelope naweek vir Francois Louw gemis maar ek’s seker daardie fout sal nie weer begaan word nie.
Op die oomblik is Springbokrugby in ‘n diep, donker put maar hulle het reeds voorheen bewys as die regte besluite geneem word en die spelers almal op vorm en gemotiveerd is, kan hulle daar uitkom en weer die hoogtes van wêreldrugby bereik.
– Morné Esben is die sportaanbieder vir K-FM, Higveld Stereo, 702 Talk Radio en CapeTalk 567. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.