Div moet ernstig besin oor jong spelers
2010-09-14 08:19
Iets het vir my oor die naweek baie opvallend geword wat dalk kan verduidelik hoekom die Springbokafrigters so onwillig is om van sogenaamde senior spelers ontslae te raak – of laat ek dit liewer so stel: om jonger spelers meer kanse in groot wedstryde te gee.
Ek het op notas afgekom wat ek tydens die Proteas se rampspoedige Wêreld T20 gemaak het en daarin het ek in hoofletters geskryf dat Graeme Smith en Mark Boucher van die spelers is wat die trekpas moet kry.
Net soos in rugby, klou krieketafrigters aan hulle ervare spelers vas vir wêreldbekers omdat hulle glo dat ervaring pleks van spelpeil die toernooi sal wen. Maar daarin lê die fout.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek sê nie vir 'n oomblik dat al die ervare spelers met jongelinge vervang moet word nie, maar wat ek wel wil sien is dat 'n jonger of minder ervare speler kanse op internasionale vlak moet kry, mits sy vorm beter is as die ervare speler wat hy vervang.
Kom ek gee 'n voorbeeld.
Dis al sedert die oorsese been van die Drienasiereeks duidelik dat Bryan Habana nie op vorm is nie en dat hy miskien 'n blaaskansie nodig het nadat hy die hele Super14 en toetse voor die reeks gespeel het.
Spelers soos Gio Aplon, Bjorn Basson of selfs die Haaie se Lwazo Mvovo sou nie die span in die steek gelaat het nie, maar hulle het Habana bly hou omdat die afrigters geglo het hy sal regkom.
Dieselfde kan van John Smit ook gesê word. Waar anders sal jy sien dat 'n speler van Bismarck du Plessis nie eens die Bok-groep haal nie?
Ek verstaan dis miskien 'n bietjie moeliker as gevolg van Smittie se leierskap, maar die span sou sekerlik nie erger gevaar het as Victor Matfield, Juan Smith of selfs Schalk Burger aan spits van sake was nie.
Dit kan nie maklik om die afrigter van die Springbokspan te wees nie.
Die publiek is honger vir sukses en is baie krities as die span verloor, maar miskien is dit die moeite werd om die diepte te toets en 'n minder ervare groep oor te stuur na die VK aan die einde van die jaar om 'n groep te ontwikkel wat net so goed as die eerste keuse-spelers is.
So, as Habana of Smit of enige iemand anders steeds nie op vorm in die wêreldbeker is nie, sal dit vêr makliker vir die afrigter wees om die tweede keuses te laat begin omdat hulle reeds die nodige opskerpwerk gedoen het.
Peter de Villiers verskyn die 28ste van die maand voor sy base en hy sal waarskynlik vir anders as rugby-redes in sy pos bly; maar ek hoop rêrig hy kry een of ander konsultant in om te help met besluitneming voor, tydens en na die wêreldbeker, want as dit so aangaan is 'n plek in die uitspeelrondes glad nie verseker vir die Bokke nie.
Vir nou is ek bly dat die senior spelers met 'n kondisioneringsprogram besig en hopelik het De Villiers genoeg sin om sy belangrikste spelers die toer van die VK te laat mis.
– Morné Esben is die sportaanbieder vir K-FM, Higveld Stereo, 702 Talk Radio en CapeTalk 567. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.