Dít gaan 'n stryd soos min wees!
2010-08-11 07:59
Dis nog ‘n rukkie voordat die Bokke weer in aksie is en met Peter de Villiers wat van wangedrag vrygespreek is en Frans Steyn weer terug in die Bok-groep, is daar nie veel om oor die Springbokke te skryf nie.
My aandag skuif die week na die groot Curriebeker-stryd tussen die WP en die Blou Bulle Saterdag op Nuweland. Dis die grote!
Dis die tradisioenele noord/suid-derby, die ontmoeting van Suid-Afrika se twee rugby-reuse – en al die ander metofore wat ons rugbyskrywers so gereeld gebruik.
Ek lek nou al my lippe af!
Soos altyd gaan hierdie wedstryd baie goed bygewoon word. Nuweland gaan uit sy nate bars, maar nie nét van WP-ondersteuners nie. Elke jaar wanneer dié twee spanne op Nuweland ontmoet, stroom die groot groep Kaapse Bul-ondersteuners behoorlik uit!
Die laaste keer toe die twee reuse mekaar die stryd op Nuweland aangesê het, het die WP die Bulle 25-19 geklop en in daardie wedstryd was die WP se oorwinning op ‘n groeie grondslag deur die voorspelers gebou. Wicus Blaauw het Werner Kruger in die skrums oorheers en die vaste vyf was ook as ‘n eenheid baie indrukwekkend.
In die Super14 het die Stormers bewys dat hulle vaste vyf met die heel beste kan saampraat en het daardie vorm na die Curriebeker oorgedra. Die feit dat die pak min of meer dieselfde is as die wat in die Super14 diens gedoen het, help natuurlik. Hulle het verlede naweek die Griekwas-pak in Kimberley meer as net onder beheer gehou en het teen die Pumas, Luiperds, die Leeus en die Cheetahs oorheers.
Dis weer waar die WP op hulle stukke moet wees – anders kan dit ‘n lang middag vir die Streeptruie word.
Die Bul-pak is tegnies baie goed en so sterk soos ‘n trop beeste en ek stem saam met die hulpafrigter van die WP, Matt Proudfoot: Vir die WP-voorspelers wat nog nie toetsrugby geproe het nie, gaan Saterdag ‘n voorsmakie daarvan wees, want dis die ware toets. Ek het geen twyfel dat hulle die naweek verlede jaar se vertoning wil regstel nie en ek glo hulle sal die WP-pak opdraande gee.
Maar ‘n nare ding in die Bulle se spelpatroon steek weereens sy kop uit. Hoewel hulle sovêr die seisoen ‘n paar prag-drieë gedruk het, staan hulle steeds te veel punte af.
Die Luiperds het verlede Vrydagaand amper vir die grootste verrassing gesorg deur die Bulle op Loftus te klop, maar die tuisspan het uiteindelik met vyf punte geseëvier.
Ek’s net bekommerd dat hulle teen ‘n beter span ‘n groot prys gaan betaal indien hulle nie vinning verbeter nie. Op die aanval is daar niks fout met die verdedigende kampioen nie. Spelers soos Gerhard van den Heever, Jaco van der Westhyzen, Stefan Watermeyer en Dewalt Potgieter het die seisoen bewys dat die Bulls meer as genoeg skietkrag het – maar wat sal al daardie skietgoed baat as die verdediging nie na wense is nie?
Ja-nee, dames en here, ek sien uit na Saterdag omdat hierdie geskiedkundige kragmeting my baie min teleurstel.
– Morné Esben is die sportaanbieder vir K-FM, Higveld Stereo, 702 Talk Radio en CapeTalk 567. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.