Diepte op losskakel pla Coetzee
2011-02-01 07:55
Te oordeel na die Stormers se opwarmingswedstryd teen die Western Force verlede jaar, was die verwagting dat die Stormers se opwarmingswedstryd teen die Lions een sal wees waar beide spanne die bal wyd speel en heelwat drieë teen mekaar sal inryg.
Ongelukkig, was dit nie die geval nie. Inteendeel, dit was ‘n slaperige stryd wat nie vir lank onthou sal word nie.
Vir die wat belangstel, die Stormers het die stryd 15-0 gewen en drie baie goeie drieë gedruk.
‘n Mens kan seker nou nie te krities wees oor die wedstryd en die spanne nie. Dit is die begin van ‘n nuwe seisoen en die manne het meer as twee maande gelede kompeterende rugby gespeel. Vir ander was dit nog langer. Hulle was verroes en dit het moeilik gelyk om aan die gang te kom. Takties was die Stormers nie die skerpste nie, maar was daardie aand wel die beter span.
Een gebied waar die afrigter, Allister Coetzee, wel tevrede kan voel is sy span se verdediging. Die Kapenaars was trojane op verdediging en dit lyk asof hulle begin het waar hulle in die Curriebeker geëindig het. Hulle het die Lions minstens vyf keer op hul doellyn gestuit.
Losskakel is ‘n posisie waaroor Coetzee nog ‘n rukkie sal kopkrap. Eerstens was dit nog nie teen druktyd bekend presies wanneer Peter Grant hom by die span sal aansluit nie en te oordeel na Vrydagaand lyk dit nie of Gary van Aswegen volwasse genoeg is vir Super Rugby nie.
Terwyl sy balverspreiding en besluite op die aanval goed is, het sy skopwerk pale toe hom in die steek gelaat. Daar is egter genoeg bewyse dat hy met tyd in ‘n puik speler kan ontwikkel. Elgar Watts het ook nie die veld aan die brand gespeel toe hy opgekom het nie, maar dit sal verkeerd wees om nou al gevolgtrekkings oor sy vermoë te maak aangesien hy nie lank genoeg op die veld was nie.
Lionel Cronje is nou al twee seisoene in die Stormers-span en lyk na die gunsteling om as tweede keuse na Peter Grant te speel, maar dit lyk nie asof die afrigter veel vertroue in hom het nie, veral na sy dissiplinêre probleme verlede jaar.
Dis moontlik dat hy wel Saterdag teen die Sharks ‘n kans sal kry om te bewys dat hy op Superrugby vlak hoort en vir altyd die doemprofete stilmaak.
Op senter het dit nie gelyk asof Jean de Villiers en Juan de Jongh heeltemal gekliek het nie. Miskien moes de Villiers buitesenter speel en de Jongh op binnesenter of miskien is de Jongh en Jaque Fourie ‘n beter kombinasie.
Dit sal interessant wees om te sien op watter senter-kombinasie Coetzee besluit vir hulle openingswedstryd van die Superrugby-toernooi oor 'n maand teen die Lions.
Op die oomblik beteken hierdie opwarmingswedstryde nie veel nie. Al die spanne is besig om diepte te toets in afwagting van ‘n lang seisoen, maar voor-seisoense wedstryde is ook die ideale geleentheid om momentum op te bou voor die Superrugby-toernooi afskop.
– Morné Esben is die sportaanbieder vir K-FM, Higveld Stereo, 702 Talk Radio en CapeTalk 567. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.