Dié Bulls-kontrak laat wrang smaak in die mond
2012-07-06 08:44
Handré Pollard, die belowende Paarl Ginasium- en Springbok o.20-losskakel, het 'n kontrak met die Bulls geteken.
Volgens berigte vry die Bulls reeds sedert 2010 na sy handtekening, toe hy tydens die Grant Khomo o.16-toernooi uitgeblink het.
Toe die nuus oor Pollard se skuif Pretoria toe uitkom, het menige sportentoesias gesê WP Rugby het weereens 'n jong talent verloor. Tog neem ek eintlik nie die WP hieroor kwalik nie.
Pollard het in die week voor die Bababokkies se Wêreldkampioenskap-eindstryd teen die Baba Blacks aan die media gesê hy hou sy opsies oop en het geen kontrakte geteken nie. Hy't bygevoeg dat hy eers ná die Craven-week sou besin oor waar hy sy rugbyloopbaan wil voortsit.
Dis natuurlik ook wat Pollard se pa en agent, André, aan WP-rugbybase vertel het. André het ook na bewering gesê dat WP Rugby die eerste opsie sou hê om van Handré se dienste gebruik te maak.
Wat gebeur toe? Pollard teken amptelik met die Bulls lank vóór die Craven-week afskop! Het hy dan nie gesê hy sal eers daarna oor sy toekoms dink nie?
Ek's jammer, maar dis vir my in slegte smaak. Hoekom sal jy een ding sê en dan die teenoorgestelde doen?
Barend van Graan, uitvoerende hoof van die Blou Bul Maatskappy, het dié week bevestig dat hulle nou al lank vir Pollard in hul visier het. Hy't gesê die Bulle is, onder andere, baie beïndruk met sy temperament en volwassenheid, en het hom in 2010 reeds probeer ooreed om Pretoria toe te gaan nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het.
Pollard het volgens bronne reeds verlede jaar die kontrak gesluit.
Dis waar dat die Bulle se talent-identifisering beter as die van die WP is, maar om sy tuis-unie so aan 'n lyntjie te hou met die wete dat hy reeds 'n kontrak met die aartsvyand gesluit het, is vir my vreeslik onsmaaklik. Of miskien is dit net hoe sake deesdae werk...
– Morné Esben is ’n nuusleser vir K-FM. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.