Dié Bok-groep nie te sleg
2012-11-02 08:07
Oor die afgelope paar weke is ek soms lelik oor die kole gehaal omdat ek gewaag het om die WP-rugbyspan 'n kans te gee om die Curriebeker te wen.
Ek is nou nie die "I told you so"-soort nie, maar ek dink dis duidelik dat ek miskien wel 'n ding of twee weet.
Dis egter nie waaroor dié week se rubriek gaan nie. Ek wil graag vorentoe kyk na die Springbokke se strawwe Europese toer, wat later vandeesmaand begin.
Ek moet sê vir die eerste keer dié jaar was ek redelik gelukkig met Heyneke Meyer se Bok-groep. As 'n mens net kyk na die lang beseringlys en die spelers wat nie vir die toer oorweeg kon word nie, moet 'n mens vir Meyer krediet gee vir die groep wat hy saamgestel het.
Zane Kirchner se insluiting laat my egter steeds behoorlik kop krap!
Een speler wat my in die Curriebeker-uitspeelwedstryde beïndruk het was Pat Lambie. Hy het vanjaar bitter min speelkans in die Groen en Goud gekry en het self gesê dat dit vir hom onsettend frustrerend was, maar hy het die meerderheid van sy praatwerk op die speelveld gedoen en het aan Meyer bewys presies wat in hom steek.
Of hy nou speelkans teen Ierland, Skotland en Engeland sal kry is 'n ander storie.
Morné Steyn is deel van die groep en daar is 'n goeie kans dat hy weer die eerste-keuse-losskakel sal wees, grotendeels vir sy ervaring in die Europese toestande.
Terselfdetyd dink ek dit sal dwaas van Meyer wees om nie vir Lambie minstens teen Skotland op losskakel in te span nie. Hy kan vir die twee "grotes" teen Ierland en Engeland van die reserwebank af speel, indien moontlik ook op 10.
Met die oog op die volgende wêreldbeker, sal dit sin maak om vir Lambie as 'n losskakel te brei. Meyer (of wie ookal dan die afrigter is) sal dan goed tussen hom en Johan Goosen kan afwissel.
Dit sal ook interessant wees om te sien wat Meyer se besluit op senter gaan wees. Jaco Taute het die afgelope paar toetse in die nommer-13-trui begin, maar Juan de Jongh se vertonings in die die laaste paar rondes van die Curriebeker het beslis bewys dat hy ernstig oorweeg behoort te word.
Drie toetse wag op die Bokke en kom ons hoop daar is meer antwoorde as vrae aan die einde daarvan.
– Morné Esben is ’n nuusleser vir 94.5 Kfm. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.