Curriebeker-uitslag moeilik om te voorspel
2012-10-26 07:41
In my rubriek verlede week het ek gepraat oor hoe die huidige WP-span die vermoë het om vir die eerste keer sedert 2001 die Curriebeker te verower, en ek staan steeds daarby.
Die WP het verlede week teen die Leeus eienskappe gewys wat nie altyd deur die seisoen sigbaar was nie. In Superrugby het die Stormers gesukkel om wedstryde teen topspanne te wen waar hulle agter op die telbord was, maar verlede naweek het hulle bewys dat hulle koel onder druk kan bly en nie hul strukture prys gee omdat hulle punte jaag nie.
Dit is 'n belangrike eienskap om te hê.
Nog 'n belangrike eienskap is die teenwoordigheid van sogenaamde "X-faktor-spelers". Hiervan het die WP 'n oorvloed.
Bryan Habana speel die seisoen van sy beste rugby en sal waarskynlik as SA Rugby se speler van die jaar aangewys word.
Gio Aplon en Juan de Jongh het teen die Leeus bewys dat hulle tot selfs meer in staat is, maar die insluiting van die jong Damian de Allende op binnesenter is in my opinie 'n briljante plan. De Allende het 'n paar keer die seisoen sy verskyning gemaak, hoofsaaklik op die vleuel, maar daardie verskynings was in die meeste gevalle in die laaste paar minute van 'n wedstryd, so die Haaie sal waarskynlik nie te veel van sy vermoë weet nie. Dis beslis iets wat in die WP se guns kan tel.
Demetri Catrikilis het 'n skopvoet wat wynig 'n poging pale toe mis, maar ek het opgelet dat sy senuwees hom soms in groot wedstryde kniehalter. Hy sal op sy stukke moet wees omdat eindstryde dikwels met skoppe beslis word. Dis hier waar Patrick Lambie tans die oorhand het.
Die Haaie is 'n span vol selfvertroue. Hulle het ook hul Springbokke terug en speel hoë gehalte rugby. Hulle het die seisoen die WP gereeld ondergekry en op Kingspark is hulle so te sê onstuitbaar.
Maar wie weet, op die dag presies 11 jaar nadat Corné Krige die beker gelig het, kan die WP heel moontlik hul trofee-droogte tot 'n einde bring.
– Morné Esben is ’n nuusleser vir 94.5 Kfm. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.