Curriebeker het sy glans verloor
2012-08-10 07:37
Skaars 'n week nadat die Chiefs die Superrugby-beker omhoog gehou het, is daar weereens rugby op die kassie in die vorm van die Curriebeker.
Ek moet bieg, ek gaan dit moeilik vind om heeldag voor die TV te sit om dié afgewaterde toernooi te kyk. As ek so na die spanne kyk, is die helfte van die spelers aan my onbekend.
Dit voel vir my asof die Curriebeker net 'n ander naam vir die Vodacombeker is omdat die unies dit gebruik om hul jong spelers 'n kans te gee en om met kombinasies en wedstrydplanne te eksperimenteer.
Die toernooi word ook gekniehalter deur die feit dat die land se beste spelers tans in Heyneke Meyer se Springbokgroep is om voor te berei vir die Rugbykampioenskap, wat terloops volgende week op Nuweland afskop. Ek sien baie meer hierna uit as die Curriebeker.
Die Leeus begin die toernooi as die verdedigende kampioen. Ek kan dit skaars glo. 'n Span wat so vrot in die Superrugby-toernooi was, is die pasaangeërs in plaaslike rugby. Die gevaarligte flikker!
Maar dit is presies wat fout is. Daar word deesdae soveel rugby gespeel dat plaaslike kompetisies daaronder ly. Dis nie net die geval in Suid-Afrika nie. Nieu-Seeland se ITM-beker sukkel ook om toeskouers by die stadions te kry omdat spelers soos Dan Carter, Richie McCaw en Conrad Smith bykans glad nie meer vir hul unies kan speel nie. In die verlede, toe daar nog Super 12 gespeel is, was die toernooi in Mei verby. Dit het dan die Bok-afrigter 'n paar weke gegee om sy span reg te kry vir die Junie-toetse en daarna word hulle vrygestel om Curriebeker-rugby te speel.
Nou maak die Superrugby-toernooi egter eers einde Julie klaar en die Rugbykampioenskap is ook langer omdat 'n vierde span ingesluit is.
Dit het daartoe gelei dat die unies wat die meeste Bokke oplewer in die Curriebeker sukkel en spanne soos die Leeus, wat feitlik niemand aan die nasionale span moet afstaan nie, koning kraai – en volgens my is dit 'n probleem.
As 'n mens positief hierna wil kyk kan jy seker sê dat jong spelers beter ontwikkel word omdat hulle vinniger moet leer en teen 'n hoër pas speel.
Spelers soos Marcell Coetzee en Siya Kolisi het in verlede jaar se Curriebeker-toernooi hul stempel afgedruk en bevind hulself nou in die Springbokgroep. Ek hou egter steeds voet by stuk dat die Curriebeker die wêreld se beste plaaslike toernooi behoort te wees, maar weens die oorvol skedule het dit sy glans verloor.
– Morné Esben is ’n nuusleser vir 94.5 Kfm. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Morné
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.