Vroue se lot steeds nie beter
2013-02-21 07:57
Verkragting is ’n woord wat ‘n mengsel van gevoelens by my uitlok. Dit maak my kwaad en hartseer. Dit skok en walg my. En dis iets wat al hoe meer sy lelike kop in ons land uitsteek.
Verkragting is natuurlik nie ‘n nuwe probleem nie. Inteendeel, om vrouens as ’n middel tot ’n liggaamlike doel te sien is ‘n probleem wat seker al so oud soos die berge is. In baie kulture is ’n vrou se waarde immers gekoppel aan haar vermoë om kinders te baar.
Hierdie tradisie het ons deur die eeue heen gevolg. Ons het dit selfs deur middel van onder andere pornografie en ander seksuele vertonings, vir moderne doeleindes aangepas.
As kind het ek en my twee susters elke dag verby Teazers gery op pad skool toe. Vandat ek oud genoeg was om te weet wat ’n strip club is, het ek ’n sterk afkeur vir die hele storie en almal wat daarmee betrokke is. Volgens my is dit niks anders as ’n mekka vir mans wat ’n kaal vrou van naby wil aanskou en bereid is om daarvoor te betaal nie. Die algemene konsensus blyk te wees dat mense (veral mans) geen fout met hierdie plekke sien nie, want dis ‘net ’n strip club’.
Om in Thailand na die "toertjies" wat sekere vroue met sekere dele van hul lywe kan doen, te gaan kyk, is deesdae net iets pret om op jou volgende oorsese vakansie te doen.
Die feit bly staan dat die objektifisering van vroue so diep in ons samelewing gewortel is dat dit jou om elke hoek en draai betrap. Verkragting mag dalk die ergste simptoom van hierdie onaangename siekte wees, maar dit is beslis nie die enigste een nie.
Ons aandag is die laaste tyd skerp op verkragting gefokus. Dit blyk dat daar elke dag in elke provinsie in Suid-Afrika oor ’n verkragting verslag gelewer word. Die nare waarheid is dat 'n vrou se kans om verkrag te word in ons land groter is as hulle kans om te leer lees en skryf.
Toe die nuus van Anene Booysen se wrede verkragting en aanranding aan die lig gekom het, het dit voorgekom asof Suid-Afrika breekpunt bereik het. Ek het gedink dat so ’n gruwelike daad mense so sou ontstel dat die kwessie vir eens en vir altyd aangespreek sou word.
Suid-Afrika se reaksie was egter louwarm gewees.
Ek is self skuldig aan die gebrek aan optrede. Ek het kwaad geword en op Swart Vrydag swart klere aangehad, maar buiten dit het ek nog niks gedoen om die probleem te help oplos nie.
Ek dink die rede vir my, en vele ander mense, se passiwiteit is hoe magteloos ’n mens voel. Soos iemand wat in Amerika opdaag om Sandy se gemors skoon te maak met net ’n skoppie en ’n besem. Dit is ’n probleem met soveel verskillende oorsake en fassette dat dit bykans onmoontlik is om ’n enkele oplossing daarvoor te vind. Maar dit beteken nie dat ons nie moet probeer nie.
Die gebrek aan respek vir vroue en die geweld wat onvermydelik volg is ’n bose kringloop wat stopgesit moet word indien ons die eerste stappe in die stryd teen verkragting wil neem.
Stuur jou kommentaar aan Michelle
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.