Skaatsplank-waaghals is geen held
2013-02-11 08:17
Ek dink die meeste mense sal met my saamstem dat daar net twee dinge op ons land se paaie is wat potensieel meer probleme kan veroorsaak as orige voetgangers: Skaatsplank-en fietsryers.
Ten spyte van die feit dat daar baie spesifieke padreëls vir fietsryers is, vee sommige van hulle gereeld hulself daaraan af en ry net soos hulle lus kry. My gunsteling-uittarting is as drie of meer van hulle langs mekaar ry.
Skaatsplankryers is die laaste tyd ’n probleem wat danksy ’n onverantwoordelike *waaghals en ’n video op die internet besonder baie aandag geniet.
Ek kan verstaan hoekom skaatsplankryers die vermoë het om mense warm onder die kraag te maak. Hulle skaats op voet- en sypaadjies rond en terroriseer, opsetlik of nie, die mense wat te voet iewers heen op pad is. Dan kan hulle boonop mos nie van punt A tot punt B reis sonder om ’n paar toertjies tussendeur te doen nie. (Ja, ek het al gesien hoe een van hierdie toertjies misluk en ek het so ‘n bietjie in my mou gelag.)
Die onlangse skaatsplank-insident, toe 24-jarige Decio Lourenco Kloofnek afgeskaats het, het dinge egter 'n stappie verder geneem.
Hierdie knaap het na bewering teen ’n spoed van meer as 70 km per uur by Kloofnekweg afgeskaats. Hy het net ’n valhelm aangehad en telkemale bitter amper in die aankomende verkeer se baan beland.
Ek weet nou al wat die meeste mense gedink het voor hulle die video verder help versprei het. Hulle het gedink Decio is ongelooflik braaf, talentvol en cool. Miskien het hulle dit self oorweeg om ‘n joyride by Kloofnek af aan te durf. Dit is nie wat ek gedink het toe ek die video gesien het nie.
Die eerste ding waaroor ek gewonder het, is of ’n valhelm voldoende beskerming is vir iemand wat op ’n redelike onveilige vervoermiddel is. Toe ek besef wat hy van plan is om te doen met sy skaatsplank, het ek besluit dis sy verdiende loon as hy val en ’n paar bene breek.
Nog ’n ding wat my bekommer het, is of hy gewag het tot die pad stil was sodat hy nie ander mense in gevaar stel nie. Daar was egter heelwat ander motors op die pad en Decio het ’n paar keer amper in die aankomende verkeer se baan beland.
Ek kan nie ontken dat hierdie skaatsplankryer waaghalsig is nie. Hy het iets gedoen wat baie min mense sou aanpak, maar ek dink daar moet in hierdie geval onderskeid getref word tussen iets wat waaghalsig is en iets wat onverantwoordelik is.
Volgens my word ’n waaghalsige daad ’n onverantwoordelike een wanneer dit ander mense se veiligheid of lewens in gevaar stel. Rekspring is waaghalsig, maar slegs die persoon wat die springwerk doen se lewe word in onmiddellike gevaar gestel. Om met ’n skaatsplank by ’n besige pad af te ry stel almal op daardie pad se lewens in gevaar.
Die doel van die video was om skaatsplankry te bemark. Dit het nou eerder gesorg dat die sport as gevaarlik en roekeloos beskou word. Ek kan net dink hoeveel ma’s hul kinders nou gaan verbied om daaraan deel te neem. Hopelik het die feit dat Decio nou van roekelose en nalatige bestuur aangekla word, ander wat dieselfde toertjie wou probeer, afgeskrik.
Skaatsplankryers words reeds nie op openbare paaie toegelaat nie en mag op min ander paadjies skaats. Met hierdie soort negatiewe bemarking gaan hulle hul lot net vererger. Om van ’n pad gebruik te maak is ’n voorreg wat verdien moet juis deur te bewys dat jy by die reëls sal hou.
Suid-Afrika se paaie is reeds gevaarlik genoeg sonder dat waaghalse op wiele die noodlot tart. Meer as 1 200 het verlede jaar tydens die Kersseisoen hul lewens op ons paaie verloor. Ons moet ons daarop toespits om ons paaie veiliger te maak, nie nog maniere uitdink om hulle te misbruik nie.
* Hier is die video:
Stuur jou kommentaar aan Michelle
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.